Hoe lank al hou jy van iemand, maar is te papbroekig om dit met hom of haar te deel? Elke keer dat jy verby die persoon stap, draai jou maag soos ’n wasmasjien, klop jou hart buite jou borskas en struikel jy oor jou woorde soos ’n senuweeagtige stem oor ’n voicemail.
En jy hoop die ander persoon kom dit agter, voel die chemistry en maak die eerste move.
Vergeet dit, dit gaan nooit gebeur nie, vra my. Ek sit al meer as ’n jaar met ’n crush, maar steeds ontbreek die moed my om die kat uit die sak te laat. Nee, daardie kat versmoor al byna in die sak, maar ek is bloot te bang vir verwerping. Vir my is dít veel erger as om daagliks met die angstige hoop dat iets sal gebeur rond te loop.
En Sondag ná al hierdie wroegtyd sê ’n vriend, Mr Q, soos ek hom noem, vir my ’n baie waar ding. “Sweet Pea, as daar nie binne twee of drie weke iets van jou crush of smoorverliefdheid gekom het nie, los dit. Dan is dit nie bedoel om te wees nie.”
En dis die raad wat ek vandag vir julle wil gee. As die chemistry nie so sterk is dat julle van dag een af die hele dag in jul liefdes-poel wil bly swem nie, los dit.
Dit help nie om te wonder of daar ’n liefdesvonk is nie – die spark moet net dáár wees.
Aan die ander kant van die munt het ek ’n ander vriendin wat sê: “Don’t force a flower to open.”
Nou weet ek nie meer nie. Ek wil so graag self die raad wat ek vir julle gee, volg, maar ek sukkel.
Daarvoor is die subtiele flirtasie en dolle verliefdheid te veel pret.
Groete,
Marzahn