Hoe ver is te ver?
Michelle Linnert het gevaarlike tendense onder tieners – wat van verwurging tot trein-surfing strek – ondersoek.
Dodelike speletjies - verwurging
Mense speel glo al generasies lank die "5 minute van hemel"-speletjies, oftewel verwurging.
Daarom is dit ironies dat dit uitaanvanklike gesprekke met JIP se landwye paneel leerders geblyk het dat min nog daarvan gehoor het.
Dié speletjie behels dat maats mekaar byvoorbeeld met enigiets, van 'n das tot 'n tou, selfs met die hand, van suurstof ontneem deur druk op die lugweg toe te pas, totdat hulle flou word. Op dié manier word die brein van suurstof ontneem en veroorsaak dit 'n euforiese gevoel - blykbaar soos dié wat 'n mens kry van dwelmgebruik.
Tieners waag dus hierdie lewensgevaarlike truuk omdat dit 'n manier is om 'n "high" sonder dwelms te beleef. En dis juis ook wat dit so gevaarlik maak - dit word as onskuldige pret beskou.
Hoekom doen tieners dit?
"Hulle is gevaarlik verveeld. En kinders en adolessente, veral seuns, is altyd op soek na iets opwindends om te doen," het
dr. Pixie du Toit, 'n forensiese kriminoloog van die Sinoville-krisissentrum in Kaapstad, in 'n Carte Blanche-videogreep gesê.
In dieselfde insetsel erken een van die betrokke seuns, wat gereeld verwurging beoefen, dat hy masturbeer tydens die spel.
Dit is egter die grootste gevaar van verwurging: wanneer masturbasie bykom, raak dit 'n private spel. Dit is dán dat sterfte kan voorkom, aangesien die tiener alleen is, en daar niemand by is wat kan help sou iets skeefloop nie.
Ouers of bekommerde maats kan na die Games Adolescents Shouldn't Play (GASP)-skakel gaan.
Dodelike speletjies - selfmutilasie
Op dieselfde selfvernietigende manier is daar ook 'n tendens onder tieners om hulself willens en wetens te vermink.
Uit 'n artikel in die Bloomberg Businessweek blyk dit dat " 'n 16-jarige onlangs na die ongevalle-eenheid by 'n hospitaal gehaas moes word. Sy het erge pyn van 'n skynbare infeksie op haar arm ervaar, maar by nadere ondersoek het dokters tot 20 vreemde voorwerpe onder haar vel gevind.
"Onder die voorwerpe was stukkies potlood, 'n skroef van 'n bril en 'n skuifspeld.
"Die neiging staan bekend as ‘self-embedding' - 'n uiterste vorm van selfmutilasie, waarin mense hulself met opset seermaak.
"Voorwerpe en artikels van glas, hout, metaal en ander word onder die vel ingeplant.
"Volgens dokters is dit egter bitter moeilik om die omvang van die probleem te bepaal, veral omdat diegene wat dit beoefen, dit dikwels vir hul vriende en familie wegsteek.
"In die VSA het tussen 13 en 23% van tieners al selfmutilasie beoefen, glo in 'n poging om hul emosionele pyn te verlig."
Dodelike speletjies - ‘3D body piercing'
Dit gaan selfs verder. Onder die subkultuur van body piercing, word krale en ander voorwerpe onder die vel ingeplant.
Dit staan bekend as 3D-body implants en word as kuns beskou. Ander uitvloeisels van dié subkultuur sluit tatoeëermerke, piercing, brandmerke (branding) en inkerwing (scarification) in.
Dit is glo uiterste individualisme wat mense so ver laat gaan as om materiale soos titaan, sagte soliede silikoon en Teflon onder hul vel te laat inplant.
Skokkend? "Gross?"
Dodelike speletjies - Treine
Wat van tieners wat bo-op, of agter aan treine klou vir pret, of omdat iemand hulle uitgedaag het?
Die Herald Sun het onlangs die gemeenskap daar se hulp ingeroep om die identiteit bekend te maak van twee waaghalse, wat agter op 'n trein op 'n klein lysie gestaan het. 'n Mede-passasier het 'n foto van die twee na die koerant gestuur.
In 'n ander voorval is drie tienermeisies van Melbourne, Florida (VSA), glo dood nadat hulle mekaar uitgedaag het in 'n speletjie op die spoorlyn. 'n Tienerseun wat glo ook betrokke was, is ongedeerd.
In Suid-Afrika is daar daagliks mense wat van treindienste gebruik maak, wat dieselfde onverantwoordelike en lewensgevaarlike kans waag om tussen die waens te ry.
"Dis onwettig, maar dis nie altyd polisieerbaar nie, want dit gebeur meestal tydens spitstye, wanneer treine oorvol is, en daar nie plek binne die waens self is nie. Dit is uiters gevaarlik, en meestal waaghalsige tieners wat hulle hieraan skuldig maak," het Riana Scott, Metrorail-woordvoerder, aan JIP gesê.
"Dis kommerwekkend dat hierdie gedrag ook jonger kinders tot soortgelyke gedrag aanspoor.
"Train surfing gebeur hoofsaaklik in Gauteng - ons sukkel meer met kinders wat tussen waens ry en deure oophou vir vriende wat laat opdaag," het sy gesê.
Wat sê tieners?
Cornelius Greyling (16), gr. 10, die Hoërskool DF Malherbe, Port Elizabeth:
"Dit is definitief nie cool nie, want dit is baie gevaarlik, die feit dat jy op jou eerste keer wat jy dit doen 'n kans het om dood te gaan, maak dit vir my erger as enige ander dwelm."
Rochen Pharo (14), gr. 10, Archway School, Stroud, Gloucestershire, Engeland:
"Ek dink dit gebeur meestal oorsee, want dit is nie baie gewild in hierdie land nie (Engeland). Hulle sal dit dalk nie onmiddellik agterkom nie, maar die uiteinde van hierdie speletjie kan ongelooflik baie hartseer en rou vir die kind se gesin veroorsaak."
Michelle Mellet (16), gr. 10, die Hoërskool Waterkloof, Gauteng:
"Ek dink nie dis reg om jouself of jou vriende te wurg nie. Dis beslis nie normaal nie."
Marshall Jansen (15), gr. 9, die Hoërskool Malibu, Eersterivier:
"Die uiteinde is natuurlik die dood. Of kinders wat erge breinskade opdoen en vir die res van hul lewe vegetables is. Ek sou so iemand nooi om aan my vriendekring te kom behoort. Ons doen goed soos krieket speel en rugby."
Trisha Redelinghuys (16), gr. 10, die Hoërskool Pearson, Port Elizabeth:
"Is dit regtig die moeite werd? Daar is soveel beter dinge waaraan jy jou tyd kan bestee en as jou vriende jou druk, het jy die verkeerde vriende."
Die tekens:
Ouers kan op die uitkyk wees vir tekens by tieners wat moontlik die speletjie speel. Só sê 'n artikel van Isabelle Zehnder van die Seattle Family Examiner. 'n Kombinasie hiervan sluit in bloedbelope oë, gordels, T-hemde, dasse of toue wat op vreemde maniere geknoop is en op ongewone plekke in die huis gevind word.
Ander waarskuwingstekens is die webwerwe wat hul kinders besoek, en 'n nuutgevonde belangstelling in die onderwerp. Ander tekens, volgens Zehnder, sluit in gereelde en erge hoofpyne, verandering in houding, en skaafmerke (oftewel "wear marks") op meubelstukke waar toue en dasse vasgemaak sou kon word.
Ander name
Die verwurgingspel het volgens die aktualiteitsprogram Carte Blanche ook ander name. Dit sluit in Blackout, Fainting Game, Space Monkey, Dream Game, Suffocation Roulette, Pass-out Game, Flat Liner, California Choke, Space Cowboy, Airplaning, Purple Dragon en heelwat meer.