Die wêreld is vol profete. Sommiges is doemprofete wat op straathoeke staan of van kerkkansels af gil dat die wêreld binnekort gaan eindig.
Ander is hedendaagse denkers wat die mensdom op sy foute wys en 'n pad vorentoe uitdink.
Hoewel die gelowe elkeen sy eie profete het, word profete nie tot religieuse groepe beperk nie.
Bob Marley was vir baie in Afrika 'n profeet, terwyl John Lennon vir 'n klomp hippies een was. Ek is selfs seker dat Miley Cyrus vir sommige negejarige kinders 'n profeet is, want ons almal kan kies wie ons persoonlike profete is.
'n Vriend van my het byvoorbeeld 'n skildery van Jesus wat langs een van Marley hang, met Gandhi en Boeddha wat onder dit pryk. Al vier hierdie figure het deur hul woorde en dade waarde tot my vriend se lewe toegevoeg.
Daar was egter 'n tyd wat profete nie bloot populêre leiers was nie, maar eerder 'n klomp vreemde siele wat visioene oor die toekoms gehad het en wêreldgebeure voorspel het. Hul voorspellings was egter baie minder akkuraat as Morné Steyn se skopskoen.
Die mensdom gaan elke paar jaar deur 'n Nostradamus-fase waar almal weer sy voorspellings probeer buig om by hedendaagse gebeure te pas. 'n Klomp Afrikaners doen dieselfde met Siener van Rensburg, wat eens voorspellings oor Afrikaners se toekoms gemaak het.
Ek het egter onlangs weer besef hoe in die kol een van my persoonlike profete was. Die skrywer Douglas Adams, wat The Hitchhiker's Guide to the Galaxy geskryf het, het in daardie briljante omnibus 'n klomp goed oor die toekoms gesê wat by die dag waar word. Sy "babblefish"-idee is een van die grootste universele vertalers op die internet, en wetenskaplikes kom al hoe nader daaraan om sy idee van "probability" deur kwantumfisika te bewys.
Die moderne selfoon raak ook al hoe meer soos die einste Hitchhiker's Guide waaroor Adams geskryf het. Verbeel jou jy het in 'n vreemde stad verdwaal. Moenie bekommerd wees nie. Daar is 'n programmetjie wat jy op jou foon kan laai wat jou kan red. Jy loop eenvoudig teen die naaste heuwel uit, skakel jou selfoon se kamera aan en mik dit oor die vreemde stad.
Skielik verskyn inligting oor die stad op jou skerm. Soos jy oor die geboue en strate wys, verskyn daar pyltjies, woorde en skakels na webwerwe. Jy is in New York en dié gebou is die Empire State.
Dit maak nie saak hoe baie ek lees of op datum bly nie, elke oggend as ek wakker word, is ek weer agter die tyd. Ek weet nie hoe baie van my profeet se woorde nog gaan waar word nie, maar ek kan nie wag om te sien nie.