JP Vermeulen, die HS Merensky se linkervleuel, dryf vorentoe.
Die openingsronde van die tweede jaarlikse o.17-rugbyfees van die Hoërskool Pietersburg, wat verlede Woensdag by dié skool in Limpopo begin het, het vir skitterende hardlooprugby en aanskoulike drieë gesorg.
In die eerste wedstryd het die Hoërskool Nylstroom se twyfelagtige verdediging die pad doellyn toe vir die Hoër Landbouskool Merensky geteer, wat op sy beurt met uitstekende teenaanvalle beïndruk het.
Merensky het uiteindelik met die wedstryd weggehardloop en met 31-5 gewen.
Die Hoërskool Hans Strijdom van Naboomspruit en die Westenburg-akademie, 'n ontwikkelingspan van Polokwane, het mekaar in die fees se tweede kragmeting gepak. Die manne van Naboomspruit het die wedstryd van meet af aan oorheers, al het Westenburg dapper verdedig.
Ná 'n kragvertoning van Hans Strijdom, sowel as uitstekende stelskopwerk, was die telling 57-3 in sy guns.
Die dag se hoofwedstryd tussen die HS Pietersburg en die HS Louis Trichardt het vir spannende rugby gesorg. Die besoekers se aansienlik kleiner voorspelers het nie toegelaat dat Pietersburg se agttal hulle ore aansit nie.
Louis Trichardt se spel is gekenmerk deur vasberade verdediging en 'n indrukwekkende spangees. Dít het PHS in 'n stadium lelik op die agtervoet gehad. Die gasheerspan het met 10-6 geseëvier.
Die tweede ronde van dié fees vind Woensdag by die Hoërskool Pietersburg plaas. Nylstroom speel teen Westenburg, Pietersburg pak Hans Strijdom, en Merensky en Louis Trichardt kom teen mekaar te staan.