Die muis teen die afstandbeheerder

  • 2
    like dit
  • 0
    like dit nie

Toe ek 21  jaar oud was, het ek een keer 'n reusagtige ou buistelevisiestel van 'n balkon op 'n tweede verdieping afgegooi. Dit was deel van 'n poets wat ons op die eerstejaars in die koshuis gebak het.

Soos enige avontuurlustige seun het die verwoesting van goed nog altyd vir my 'n vreemde bekoring ingehou. Ek het dit nog altyd geniet om goed aan die brand te steek, op te blaas, af te breek of stukkend te gooi.

Niks het egter nog gekom by die adrenalienontploffing wat ek gekry het toe ek 'n televisiestel van 50 kg deur die lug sien trek het en die uiteindelike KWARRRAA toe dit die grond tref nie.

Dit is destyds as 'n grap gedoen, en ons het almal geglimlag terwyl ons gekyk het hoe die eerstejaars die televisiestel, wat in honderde stukke oor 'n hele parkeerterrein gestrooi was, bymekaar moes vee.

Ek het egter onlangs baie amper dieselfde oorgekom toe ek 'n slag by my ouerhuis gaan kuier het en 'n bietjie op ons gemaklike blou bank uitgespan het om televisie te kyk.

Ons het nie 'n televisiestel in die kommune waar ek bly nie, dus kry ek maar min die kans om doelloos te lê en wag om vermaak te word. Ek was in gr. 6 toe ons DStv gekry het, en het onmiddellik aan MTV en VH1 verslaaf geraak.

Ek is nie seker of dit dalk die rede is hoekom my ma-hulle my 'n jaar later koshuis toe gestuur het nie, maar ek het 'n kommerwekkend groot deel van my brein aan vreemde feite oor musiekvideo's en musikante afgestaan.

Sedertdien het ek nog nooit weer naby 'n televisie gewoon nie, maar my liefde vir musiek, musiekvideo's, flieks en dokumentêre prente kon gelukkig voortleef deur die seerower-samelewing van die internet. Sedert my universiteitsdae kon enigiemand met 'n rekenaar basies enige vorm van vermaak in die hande kry deur die koshuisnetwerke.

Dit was nie altyd gesond nie. Sommige mense het die hele Friends-reeks agtereenvolgens in een week probeer kyk, en moes 'n week later die universiteit verlaat omdat hulle nie klasse bygewoon het nie. Ander ouens het te veel pornografie gekyk en anti-sosiaal begin raak.

Vir die meerderheid van ons was dit egter die goue jare waar jy letterlik enigiets wat jy wou hoor of kyk of lees in die hande kon kry.

Ek het net soveel geleer uit die dokumentêre prente en die komediante wat ons van die netwerk afgelaai het as wat ek in my sielkunde-klas geleer het.

En toe ontdek ons YouTube. Met YouTube raak ons as kykers nie meer die figure wat in die skadu van ons kamers sit en kyk wat ander mense vir ons opdis nie - ons raak die opdissers.

As 'n mens verby die ­nege triljoen video's van oulike katjies kyk, is YouTube eintlik 'n vryheidsvegter wat ons bevry van die bollie wat deesdae op televisie is. 'n Kind met 'n selfoonkamera kan meer kykers as 'n hele seisoen van 16 and Pregnant of Keeping up with the Kardashians kry.

Wat beteken 110 televisiekanale, as ek deur advertensies moet sit en oor en oor na dieselfde goed moet kyk?

Ek vermoed Suid-Afrikaanse televisie is die ergste. As jy gelukkig genoeg is om DStv te hê en jy nie van die 22 sportkanale hou nie, is jy uitgelewer aan heruitsendings van Will & Grace of dokumentêre programme oor die Tweede Wêreldoorlog.

As my pa my nie gekeer het nie, sou ek ons televisiestel nou die dag in die swembad gegooi het.

Dit was iewers tussen die twintigste of dertigste keer wat ek deur al die kanale moes blaai met die hoop om iets anders as 'n realiteitsreeks of 'n Lady ­Gaga-musiekvideo te sien, dat ek besef het ek verkies enige dag 'n muis bo 'n afstandbeheerder in my hand.

Gebruikers Kommentaar (1)

  • Tunet Jordaan
    4 months ago
    Beer vir president.
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar