Die lewe bestaan uit keuses

  • 4
    like dit
  • 0
    like dit nie

Jy moet kies tussen reg en verkeerd, wie jou matriekafskeid-partner gaan wees, wie hotter is - Jacob of Edward...

Die een belangrike keuse in jou lewe, wat jou nog baie maagpyn gaan besorg, is wát jy met jou toekoms gaan maak.

Maak nie saak hoe jy daarna wil kyk nie, ons móét almal eendag daardie belangrike keuse maak van hoe ons agt uur van elke dag gaan deurbring. Dis hoekom ek gr. 10 so gehaat het! Want skielik moes ek vakkeuses begin maak en my kop "in 'n rigting begin plaas", het my moeks gesê.

Dit was vir my só 'n mission om vier vakke te kies, want op 16 was my belangrikste lewensbesluit of ek my hare moet highlight of nie.
Ná seker vier keer van doodkrap en weer redeneer en 'n lang stap op die strand het ek my vier vakke gekies.
Tien jaar later is ek in 'n loopbaan wat ek geniet. (Al wou ek net 'n joernalis word om my sportheld, Herschelle Gibbs, te kan ontmoet.)

'n Onlangse Google-soektog (uit pure verveeldheid, moet ek bieg) het my van die tien aakligste jobs vertel. Dit sluit in: 'n wag by Buckinghampaleis, 'n skoonmaker by 'n dieretuin, Britney Spears se skakelpersoon, 'n verkeersbeampte, die persoon wat sperm van diere moet onttrek, 'n bikini-waxer, 'n taxi-bestuurder, 'n dreinskoonmaker, 'n muskietnavorser, en so het die lys aangegaan.

Maar ek wil graag by daardie lysie die winkelsentrum-spul voeg wat my die meeste irriteer:



  • Die (meestal) mooi meisies wat jou meters ver al raaksien en op jou afpyl met produk A in die hand. Jy probeer nog jou bes om oogkontak te vermy en baie belangrik te lyk, maar as jy weer sien, stap jy en Pop langs mekaar, sý met 'n smile.

  • Die spul wat vir 'n gimnasium werk. Hulle is mooi gebou en wil jou oorreed dat dit lékker is om te gym. Ek wonder soms hoe hulle mense nader. "Haai tannie, jy's vet. Wil jy by die gym aansluit?" Respek, bra!


Wat probeer ek sê? Dis nie wát jy doen nie. Want daar gaan altyd iemand wees wat jy irriteer. Dit gaan ook nie oor geld nie. Want jy gaan áltyd voel jy word te min betaal. Dit gaan daaroor om 'n werk te kies wat jy diép in jou hart wil doen, al is jy te bang om dit te erken. Dis hoe ek joernalistiek gekies het. Ek moes dit aan myself erken dat ek en Herschelle by mekaar hoort. Ongelukkig moet hy dit ook nog net besef.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar