Die lewe word dikwels deur filosowe, dominees, professore en geestelikes beskryf as ‘n wedloop, ‘n avontuur waar ons na die ware betekenis van ons bestaan soek.
Die aarde, hemelruim, son, plante en diere bestaan al vir miljoene jare en sal seker nog voortbestaan in millennia wat kom. Wetenskap leer vir ons dat materie nie geskep of vernietig kan word nie, maar verander slegs van vorm.
Alles bestaan uit atome en om nuwe wesens in die lewe te bring, moet oues sterf sodat hulle energie oorgedra kan word, dus is ons bestaan niks meer as ‘n metamorfose van Moeder Aarde nie.
Ons lewe in 'n kapitalistiese en liberale wêreld waar ons wil glo dat die hemelruim rondom ons draai en ons bly al ewig soek na die dieper betekenis van die lewe. Ons lewe rondom biljoene mense, tog is ons alleen in ons soektog na onsself en ‘n beter lewe.
Die lewe is ‘n avontuurlustige soektog na jou passie en waagmoed om jou hartsbegeerte te verwesentlik. Ek stel nie belang in jou ouderdom nie, ek wil weet of jy dit sal waag om soos ‘n gek te lyk in jou soeke na liefde, jou droom en die avontuur om voluit te lewe.
Ek stel nie belang waar en met wie jy studeer het nie, ek wil weet wat jou inspireer wanneer alles om jou in duie stort.
Ek wil weet of jy alleen kan wees met slegs jou eie geselskap en of jy tevrede is met jou eie geselskap in daardie leë oomblikke.
Is daar liefde op hierdie dooie, kleurlose planeet wat twee miljoen ligjare vanaf die son wentel? Ons sal soos gekke in ‘n koor "ja" antwoord sonder om twee keer te dink, want al mag die antwoord "nee" wees, soek ons iets om in te glo. Ons glo nie meer in godsdiens, eggenote, vriende of onsself nie, want al mag die lewe soms glad verloop, weet ons die wêreld die draai, nou is hy vriendelik en dan is hy kwaai: vandag is hy soet en môre weer suur.
Die samelewing mag dalk my houding as negatief beskou en dalk is ek pessimisties, maar dan sak ek op my knieë en bid tot die God van wie ons op Sondagskool geleer het om vir my te bewys dat Hy wel bestaan. Ek staan elke oggend op met uithouvermoë en die hoop dat ek dalk vandag ‘n vriend gaan ontmoet saam met wie ek die pad sal stap.
Ek soek liefde, die liefde waarvan ons in storieboeke lees. Ek soek die liefde wat ‘n vriend vir ‘n vriend het; die liefde van twee broers. Is dit te veel gevra? Ek kan nie meer alleen wees met slegs my eie geselskap nie. Ek is moeg om voluit te lewe. Ek het nie meer ‘n inspirasie nie. Al waarvoor ek vra is vriendskap - ek soek ‘n Jonatan.
So nou en dan kom iemand oor my pad wat ‘n invloed op my het. Hulle mag kort óf lank in my lewe bly, maar die herinneringe wat hulle agterlaat maak hul onmenslik. So nou en dan kom daar ‘n Jonatan, of so wil ek glo, maar kort voor lank tref die waarheid my van voor af en ek besef dat ek ‘n gek is en ek begin maar weer my soektog van voor af.
Tog moet daar ‘n rede vir my bestaan wees, so ten spyte van my hartseer staan ek elke oggend met ‘n sprankelende glimlag op met die hoop dat ‘n onmenslike Jonatan met onvergeetlike herinneringe oor my pad sal kom. Die lewe is toe nie die party wat ek gedink het dit is nie, maar terwyl ek nou hier is, kan ek maar net sowel dans. Ek wag dans-dans vir die koms van Jonatan.