Diamantveld se netbal beste in Noord-Kaap

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

Die eerste netbalspan van die Hoërskool Diamantveld kan steeds as die voorste netbalspan in die Noord-Kaap beskou word.

In die nasionale uitdaagreeks wat onlangs by die Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg plaasgevind het, het DHS die Noord-Kaap verteenwoordig.

Om met die bestes in die land mee te ding, bly 'n groot voorreg, maar verg harde werk, baie opoffering en lojaliteit van spelers sowel as afrigters.

DHS het algeheel vierde geëindig nadat hy in die halfeindronde teen die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen met 22-20 die knie gebuig het.

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool het die toernooi gewen, met die HTS Middelburg tweede en Ben Vorster derde.

Diamantveld moes sonder sy groot staatmaker, Margot Mazzoncini, klaarkom, maar die spelers het hard gewerk, positief gebly en elke wedstryd met ywer aangepak.

Om tot in die halfeindronde te vorder, het DHS met onderskeidelik Tweeling van die Vrystaat, Kuswag van KwaZulu-Natal, die Hoërskool Grens van die Oos-Kaap, Nketla en Ramotshere klaargespeel.

Die land se top-netbalskole het weer met reg kennis geneem van die Hoërskool Diamantveld, en die afrigter, Bettie Kleynhans, kan met reg trots wees op haar spelers.
Vir die span se twee matriekleerlinge, Hestie van der Schyff en L'Maree Basson, was dit 'n laaste toernooi.
Die hele span het met sy goeie vertonings die tweetal gesalueer vir hul ongelooflike diens en lojaliteit aan DHS-netbal.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar