Demoniese, monotoniese droomdiewe

  • 26
    like dit
  • 2
    like dit nie
Blogger:

Willim Welsyn

Soms wonder ek wat meer irriterend is as jy besig is om laat te slaap, 'n stofsuier of 'n grassnyer se geraas? Albei het basies dieselfde bose monotoniese geluid wat voel of dit nooit gaan ophou nie. Dis hierdié soort steurende klanke wat veroorsaak dat jy jou drome vergeet. En eweskielik word jy wakker en het jy niks om te wys vir al die aand en oggend se wilde avonture wat af gespeel het in die onderbewussyn nie.

My meisie koester veral haar slaap aangesien sy 'n baie meer veeleisende skedule en roetine as ek handhaaf. Slaap is vir haar meer van 'n oorlewingsaktiwiteit as net blote droomtyd. Stofsuiers en grassnyers pla haar nie so seer nie want sy is al lankal wakker en aan die gang wanneer hulle begin raas. Dis die krieke wat háár pla. Daai swart vet gillende monsters van die middernag wat dieselfde noot oor en oor tjirp tot 'n mens wil mal word daarvan.


Dis glo net manlike krieke wat tjirp. Die irriterene geluid word gemaak wanneer die mannetjie die onderste deel van sy vlerk teen die boonste deel van sy ander vlerk vryf. Hulle doen dit glo om wyfies te lok en te beïndruk en om ander mannetjies te waarsku om weg te bly. Hoe warmer dit word, hoe vinniger tjirp hulle.


Een warm Saterdagaand in 'n koshuiskamer by die KKNK was ek en my meisie moeg en vrot van die rasigerige fees en desperaat vir 'n stille nag se rus. Ons kry toe vir die laaste keer te doen met die turbo charged 4.1 liter straight six kriek uit die hel uit. Hy het ons die hele week wakker gehou en ons kon hom nooit opspoor nie.


Daai aand was die ergste. Hy het so hard en vinnig getjirp soos 'n chipmunk se kar alarm. Na drie ure se demoniese, aanhoudende getjirp, het ek dit verloor. Ek het instinktief in die rigting van die hangkas gestrompel en soos 'n besetene die swaar kas eenkant toe gewerp. In die hoek het ek die vet kriek gesien. Ek het op my knieë geval en hom herhaaldelik met die vuis begin slaan tot daar niks oor was van hom nie. Ek droom toe daai aand van stofsuiers en grassnyers. Ten minste kon ek die droom onthou want die kriek was dood.


Stofsuiers, grassnyers en krieke is demoniese, monotoniese droomdiewe. Ek wag nog vir die dag wat ek 'n flash stick in my kop kan druk net voor ek gaan slaap sodat ek al my onderbewussyn se mallighede in hoë resolusie kan stoor. My drome sal Oscars wen. My meisie sal seker 'n anti-kriek firewall installeer.


 


 

Gebruikers Kommentaar (4)

  • tobie
    26 months ago
    LOL!
  • Tobie
    26 months ago
    LOL!

  • 26 months ago
    Uitstekend beskryf en geskryf - Annette Hugo raak kranksinnig van kriek geraas - Zettie & Zazzie ruk & rol
  • Pierre du Plessis
    26 months ago
    Sekere Suid Amerikaanse en Wes-Afrikaanse stamme glo dat jy die krag van wesens wat jy eet absorbeer, en so ook sekere eienskappe van die organisme aanneem. Amper soos die gangsters in district 9, maar daai ouens is te hard getik om te besef wat hulle aanvang. Meer na die punt, krieke bevat groot hoeveelhede protein wat nie net jou gebroke babbelas lyf kon smeer en koester nie, maar ook jou lewer gedeeltelik herstel. Ek probeer nie noodwendig insinueer dat jy die kriek net so moet eet nie, ´n lekker knoffel sousie kan ook werk.

    Hierdie daad van absorbsie mag jou dalk net die moontlike weestand gee om die kriek en die stofsuier se gedreun en getjirp te weerstaan of om meer intimiderend te tjirp en die kriek die skrik op die lyf te jaag.

    Sweet dreams.
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar