Deel van 2010 se groot bohaai

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

Daar is iets groots aan die kom. "We are ready!" lees jy in die koerantopskrifte. As jy dit nie sien nie gaan jy dit in elk geval op die televisie hoor.

Hulle sê ons is reg vir die groot bohaai, reg vir die Konfederasiebeker, reg vir die 2010-Wêreldbeker, reg vir die sokker.
"Weet jy iets van sokker af?" vra ek myself. "Sokker?" kom die antwoord.

Ek het oefening nodig, en ek weet ek is darem nie alleen nie.
'n Groot meerderheid van ons Suid-Afrikaners is lankal reeds soccer pro's. Maar ek weet ek kan darem 'n hele span saamstel van die agtergeblewenes wat nie 'n clue het oor sokkertoernooie, wie die spelers is en wat presies in Suid-Afrika aan die gebeur is. Die verste wat ek al aan my sokkertoeskouerstatus gestrek het, was toe ek channel hopping op die televisie gedoen het.

Ek het per ongeluk op Supersport beland. Die afstandbeheer se batterye het per ongeluk uitgeval. Ek moes vir 'n hele paar sekondes per ongeluk sokker kyk. Maar aangesien ek nou my bogenoemde vraag van sokker moet beantwoord, gaan ek van nou af geesdriftig probeer kyk en skree. Die Konfederasiebeker begin op 14 Junie en dit is die ideale oefenlopie vir die grote - om te train as toeskouer vir volgende jaar se meneer van sporttoernooie.

"Hoekom die big deal?" vra jy.

Want jy kan nie anders as om opgewonde hieroor te raak nie. Jy hoef nie belang te stel nie, maar volgende jaar wanneer jy by die kafee brood en melk koop, gaan daar 'n groep Italianers en Spanjaarde saam jou by die till staan. Wanneer jy in die mall gaan koffie drink kan daar dalk, net dalk, 'n Hollywood-celebrity met haar kroos die "African culture" aan die tafel langs jou ervaar. Jy gaan mense sien en ruik van lande wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Almal gaan hier wees vir die sokkerfeestelikheid, die World Cup. En aan die einde van die party gaan die wêreld op jou land se grond staan en saam longe by die eindstryd uitskree.

Teen daardie tyd gaan ek miskien nog steeds nie sokkerfiks wees nie. Ek gaan tien teen een by wedstryde meer na die mense om my as na die veld kyk, maar who cares?

Iets groots is aan die kom. En ek gaan deel daarvan wees.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar