Nog ’n nuwe jaar! Dit verloor sy aantrekkingskrag na ’n ruk.
Ek het altyd gewonder hoekom my ouers nooit regtig Nuwejaar vier nie. Nou verstaan ek beter, dink ek, want dis twak! Soos al die ander feestydfoefies! Maar daar is tog inherente waarheid daarin.
Dit is wel ’n nuwe jaar.
Dis asof dit instinktief is, maar dis seker maar hoe ons gekondisioneer is dat ons onsself struktureer om volgens hierdie almanak se riglyne te werk en te dink. So werk ons onsself op en stel ons in om op die een of ander manier onsself te verbeter as daai klok 00:00 slaan.
Malligheid.
Ek haat Nuwejaarsvoornemens. Dis asof sodra ’n mens dit neerpen, is jy verseker daarvan dat dit definitief nie gaan gebeur nie.
En dis altyd dieselfde goed! Meer geld, meer oefen, minder eet, ophou rook.
Nie dat enige van daai goed betrekking behoort te hê op hierdie publikasie se teikenmark nie.
Julle het ander superopwindende avonture wat vir julle voorlê!
Eerste jaar van universiteit! Of eerste jaar van hoërskool! Blegh!
St. 6 suig! Hahaha!
Maar julle moet dit geniet! Ek vat dit terug. St. 6 blink!
Ek het wel agtergekom ek raak nou oud wat ook tussen ons gesê onsin is.
Die Nuwejare gaar op tot een massiewe hoop snert. Ek weet ek raak oud, want ek dink hoërskool was koel. Eintlik was my slagspreuk daai tyd basies: “If these are the best years of my life, kill me now!” Sjoe, ek was depressief! Hahaha! Swaap.
Gebeur ontgroening nog? Hoe simpel is dit nie? Hemel.
Maar dit raak beter! Matriek skitter en dan skitter dit harder regdeur universiteit!
As jy dit klaarmaak. Dit raak regtig lekker wanneer jy begin doen waarvan jy hou. Anders suig dit.
En dan gaan jy dood. Hahaha! En dit is die verloop van die lewe, my jong vriende.
Ek is eintlik regtig opgewonde vir die nuwe jaar. Daar’s ’n goeie gevoel in die lug. Dis blykbaar R70 vir ’n sokkerkaartjie vir Suid-Afrikaners tot in Maart, maar ek is seker dis vir die staankaartjies buite die stadion voor groot TV-skerms.
Als is lekker en Kgalema Motlanthe se lyfwagte is oudskelms wat in onskuldige mense vasjaag en hulle dan skiet.
Dit lyk asof die jaar gaan wit sit. En die petrolprys is laer! Whoo-hoo! En daai optiese-vesel-kabel word gelê! Ag, die lewe is ’n lied!