Daai drukkie kos niks

  • 0
    like dit
  • 1
    like dit nie

Kyk, nie almal is die stroperige "verklaar-jou-liefde-aan-jou-droomnooi-en-sing-'n-liedjie-oor-harte-wat-tjoklits-pomp"-soort nie.

Miskien smag jy daarna om vir Kupido lesse aan te bied oor hoe om vir eens en vir altyd reg te leer mik.
Of dalk val jy in die "ek-het-nie-'n-kêrel/meisie-nodig-nie-Valentynsdaghartjies-suck"- kategorie en vier jy vandag heerlik saam aan Single Awareness Day (S.A.D.) of behoort jy aan die Anti-Valentynsismebeweging.

Ek pas gemaklik in die "liefde-is-gemaak-om-uit-te-deel-en-Valentynsdag-is-vir-almal"- groep.

Vandag is 'n dag van gee, gee, gee en nie noodwendig van hartjievormige sjokolades, of helderrooi liefdesbriefies vir die huidige appel van jou oog nie, maar doodeenvoudig omgee en liefde met 'n bloedrooi strik om.

Daar is soveel mense wat vandag na 'n Valentyn van 'n ander aard smag: van daardie alleenloper wat pouses agter die mediasentrum se muur wegkruip; tot jou pelle wat elke dag met jou geite opgeskeep sit; tot jou ma en pa wat jou elke dag klokslag en sonder kla by die skool aflaai en weer kom haal.

'n "Hallo" of "dankie"; 'n stywe druk, of net 'n vriendelike glimlag is veel goedkoper as enigiets wat jy vandag by Cardies kan koop. Dit kos net mooi niks nie.

Oscar Hammerstein som die liefde volmaak op: "A bell is no bell ‘til you ring it, a song is no song ‘til you sing it, and love in your heart wasn't put there to stay, love isn't love 'til you give it away." Ke$ha sing ook nie verniet dat die liefde vir haar soos 'n dwelm is nie - liefde, van enige aard, is iets waaraan 'n mens kan verslaaf raak en dit is boonop 'n noodsaaklike dwelm. Dis nie nodig om 'n ander helfte te hê om Valentynsdag te geniet nie.

Hoewel Valentynsdag al in 500 n.C ingestel is as 'n manier om die liefde tussen twee mense te vier en al gee verliefde paartjies al sedert die 1900's vir mekaar bewyse van hul liefde op dié dag, hoef ons mos nie enkellopers uit te sluit op dié liefdesdag nie.

In die gees van die Heilige Valentyn, na wie die dag genoem is, moet ons dalk die liefdeskring 'n bietjie groter maak.
Volgens een legende was Valentyn in die derde eeu 'n priester in Rome.

Toe keiser Claudius II besluit het enkellopende mans is beter soldate as getroudes, het hy 'n wet afgevaardig dat geen jong man mag trou nie. Valentyn het die onreg hiervan raakgesien en jong geliefdes steeds in die geheim in die eg verbind. Die keiser het hom laat doodmaak.

Ander bespiegel dat Valentyn dalk doodgemaak is omdat hy Christene gehelp het om uit Romeinse tronke te ontsnap en 'n romantiese kinkel in Valentyn se kabel, is die verhaal dat hy in die tronk op 'n bewaarder se dogter verlief geraak het en sy laaste brief aan haar onderteken het met die steeds bekende woorde: "Van jou Valentyn."

Watter een van dié legendes oor ou Valentyn nou waar is of nie, alles dui daarop dat hy dapper, simpatiek en boonop romanties was en nooit sy eie belange eerste gestel het nie.

Lank lewe Valentynsdag! Of jy nou jou hartjie-tjoklits vandag met één spesiale iemand of 'n groep vriende deel. (Lizelle is 'n JIP-joernalis)

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar