"Chronicle" sukkel-sukkel as 'n fliek

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Dave DeHaan (links) en Michael B. Jordan speel die rol van tieners wat superkragte ontvang.

Chronicle
Wetenskapfiksie


Met Dane DeHaan, Alex Russell en Michael B. Jordan


Regie: Josh Trank

Hoewel die somtotaal van  Chronicle se dele nie naastenby op 'n geslaagde eindproduk dui nie, is daar enkeles wat oorspronklik genoeg is om die rit te kan geniet.

Almal droom die een of ander tyd van superheld-status. Of jy dit kan bereik hang van te veel faktore af, soos wat dié fiksie-avontuur dan ook bewys.

Die prent spring met soliede storievertelling weg. In die huis waar die tiener Andrew Dettmer (Dane DeHaan) bly, is omtrent niks pluis nie. Sy ma is geleidelik aan't sterf.
Sy pa is 'n alkoholis wat Andrew fisiek wreed "opvoed".
Andrew, 'n slaansak by sy skool, wil sy lewe met 'n videokamera dokumenteer. Hy neem dit oral met hom saam om alles te verfilm wat hy meen die moeite werd is.
Sy twee beste vriende, die klaskaptein Steve Montgomery (Michael B. Jordan) en sy neef, Matt (Alex Russell), is sentrale karakters in dié proses. Tydens 'n partytjie stap die drie die bosse in en kom op 'n insinking af wat soos 'n grot lyk. Iets vreemds gebeur daarbinne; skielik het hulle telekinetiese kragte.

Die beginpunt hier is dat alles op film vasgelê word soos wat dit die geval was in flieks soos The Blair Witch Project en die Paranormal Activity-reeks: 'n Dokumentêre styl, dus.

Vir 'n debuutproduksie met 'n uiters klein begroting is Josh Trank se produk meer as aansienlik, terwyl hy die verbeeldingsvlugte van die drietal aanvanklik stadig laat ontvou om die fliek se morele onderbou deeglik te vestig.
Mettertyd begin die drie, en veral die erg getraumatiseerde Andrew, hul kragte misbruik. Die gevolge daarvan raak katastrofies.

Ons beleef presies wat superkragte aan mense kan doen wat aanvanklik bloot sterflinge was.
Hulle vlieg deur die lug soos Superman en verwoes karre met dieselfde gemak as The Hulk.
Wanneer dit by die minder kunsgedrewe, laat staan fyn uitgewerkte spesiale effekte kom, raak Chronicle soms oordrewe morsig, terwyl die rukkerige kamerawerk vanselfsprekend nie in almal se smaak sal val nie.

Die spel is wisselvallig, al het DeHaan oomblikke waarin hy soos 'n jong Leonardo DiCaprio speel.

Daar is 'n mate van ophef gemaak oor die feit dat Chronicle in Suid-Afrika verfilm is, al is die verhaal in Amerika - en spesifiek in die Seattle-omgewing - geplaas.


Ons aktrises Bo Petersen en Lynita Crofford verskyn wel kortliks daarin, maar topografies is daar, in vergelyking met Safe House, skaars enigiets herkenbaar.

Ouderdomsperk: 13TG. Tydsduur: 89 minute
Soortgelyke prent: Cloverfield.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar