DIE 11de Clover-uitnodigingsatletiekbyeenkoms wat deur Grey-kollege en die Hoër Meisieskool Oranje aangebied word, het soos gewoonlik 'n hele paar puik vertonings deur atlete opgelewer.
Die beste vertonings van die byeenkoms is deur die spiesgooiers van die Hoërskool D.F. Malan gelewer.
Morné Moolman (D.F. Malan) het die nommer vir seuns o.15 met 'n reuse-gooi van 74.77 m gewen. Hy het met dié gooi die vorige rekord met meer as 14 meter verbeter. Sy spanmaat, Jeandré Slabbert, het in die nommer vir seuns o.14 self met 'n gooi van 63.54 m losgetrek. Albei het 1 501 punte op die Absa-tabel met die pogings verdien. Slabbert het die vorige rekord van die byeenkoms met bykans tien meter verbeter. Die paalspringer van Sentraal, JF Burger (o.17), het self 'n goeie vertoning op die byeenkoms gelewer. Hy het met 'n sprong van 4.40 m geslaag en sodoende sy beste poging vanjaar geëwenaar.
Die Suid-Afrikaanse jeug-naelloper Sean de Klerk (Grey-kollege) is in die 200 m vir seuns o.17 deur Jacques de Swardt van Affies geklop. Die naelloper van die Jakarandastad het die nommer in 21.88 sekondes afgeblits. De Klerk het in 21.90 sekondes oor die eindstreep genael.
Laasgenoemde het vroeër vanjaar tot in die eindronde van die nommer op die Wêreld-jeugkampioenskap in Italië gevorder. Dit was De Swardt se beste tyd vanjaar. De Klerk se tyd van 21.29 vroeër vanjaar in Pretoria is egter steeds die beste tyd vanjaar vir 'n jeugatleet oor 200 m.
De Klerk het wel in die senior afdeling in die 150 m beïndruk toe hy vir sy teenstanders hakskene gewys het en in 'n tyd van 16.05 gewen het.
Charl Grobler (Grey) het in die diskus vir seuns o.17 met 'n allemintige gooi van 57.57 m koning gekraai. Grobler was ook vroeër vanjaar vir Suid-Afrika in Italië in aksie. Dit is nie ver van sy beste poging vanjaar nie. Hy het vanjaar al die diskus 58.04 m ver laat grondvat.
Grobler het ook die gewigstoot gewen met 'n poging van 17.05 m op die byeenkoms in die Rosestad. Die middelafstand-atleet van Grey, Rynhard van Rensburg, het weer geen gelyke in die 800 m en 1 500 m gehad nie. Hy het die 800 m in 'n tyd van 1:54.64 gewen. In die 1 500 m het Hans Mojahi met 'n goeie poging vorendag gekom om Van Rensburg te probeer klop.
Laasgenoemde het egter net te veel uithouvermoë en krag vir Mojahi gehad en die wedloop in 4:19.05 gewen. Mojahi moes met die tweede plek tevrede wees. Hy het die wedloop in 4:17.73 voltooi.
Nog atlete van buite die Vrystaat, Justine en Kate Palframan (Pietermaritzburg- uitnodigingspan), het soos gewoonlik puik vertonings gelewer.
Die Palframan-sussies het in die verlede al telkemale atletiekliefhebbers van die Rosestad met hul vertonings getrakteer. Justine (o.16) het Saterdag in die 100 m (11.89), 200 m (23.70) en 400 m (55.35) behoorlik vir haar teenstanders hakskene gewys. Kate (o.17) het die 100 m en 200 m in onderskeidelik 12.44 en 25.39 afgeblits om twee goue medaljes te verower. Sy het ook bronsmedalje in die verspring met ’n sprong van 5.22 m verwerf.
Foto: JF BURGER (Sentraal) maak reg om in die paalspring oor die dwarslat te seil.