Watter soort mens steel iemand anders se bril? Huh?
Terwyl ek hier sit en tik - met 'n Coke-bottel van 'n diklensbril uit die jaar 19-toet wat so nié die rooi skynsel in my hare uitbring nie - kan ek dit net nie verstaan hoe iemand my bril, my siénbril -wag, laat ek dit duideliker stel, my vóórskrifbril - kon steel nie.
Mense steel selfone en karre en gebruik dit vir eie gewin. Nie dat ek dit op enige manier goedpraat nie, maar dis seker hoekom daar versekering vir dié soort goed is.
Maar 'n bril wat vir mý oë geskep is? Are you kidding me?
Is daardie brildief se oë dan net so sleg soos myne? Het sy (ek neem aan dis 'n sy, want geen man sal in daardie raam gesien wil word nie) ook op die ouderdom van tien besef alles lyk skielik kleiner?
Is sy ook vorentoe in die klas geskuif om beter op die bord te kan sien? Het die woorde in haar leesboek ook skielik begin beweeg toe sy een aand Sweet Valley High gelees het?
Het sy ook vir die eerste keer gevoel die grond lyk asof dit enige oomblik gaan indop toe sy die eerste keer haar nuwe oë op haar
gesig gesit het?
En het sy tog ook uiteindelik so lief geword vir haar bril dat dit deel van haar uitrustings geword het?
Mense dink gewoonlik mense wat bril dra, is nerds. Maar mense beweer ook gewoonlik mense wat bril dra, "lyk intelligent". Dis seker die naaste wat ek ooit aan slim wees sal kom.
Maar 'n bril is cool. Wanneer jy jou bril reg-skuif kan jy kan maklik 'n middelvinger vir iemand wys sonder dat die ander persoon dit besef.
Vra maar vir Jacob Zuma.
En niemand sal ooit daaraan dink om jou 'n blou oog te gee nie.
As 'n brildraer besef jy jý is die een wat uitstaan.
Mense sal jou beskryf as die een met die bril - nie die een met die olierige hare of die een met die geel tande nie. Die enigste tyd wanneer 'n bril 'n las is, is wanneer dit reën en wanneer jy aan die slaap raak daarmee. O, en wanneer jy vry en dit opstoom.
En wanneer dit so vuil is dat jy amper nie kan glo dat jy actually nie iewers op 'n piesangskil gegly het nie.
En jy kan nie help om vir jouself te lag wanneer jy jou bril soek en net weer besef hoe blind jy daarsonder is nie.
Maar hoekom sal iemand my bril wil steel?
Seker om beter te kan sien, my kind.