Die Hoërskool Brandwag se sewesspan vier sy oorwinning in die bekerafdeling. Foto: Marius Nortje
Die @lantic-sewesreeks het Saterdag by die Hoërskool Kempton Park voortgesnel en vir heerlike rugbyvermaak gesorg.
Sestien spanne het aan dié deel van die kompetisie deelgeneem.
Die Hoërskool Alberton het Die Wilgers 19-7 in die skildeindstryd geklop, en die HTS Middelburg het die bowl -afdeling gewen deur Jeugland 14-7 te verslaan.
Die eindstryd in die plaatafdeling was 'n taai kragmeting tussen Waterkloof en Transvalia. Nadat die twee spanne mekaar tot die uiterste beproef het, was dit Waterkloof wat die knoop met 19-14 deurgehak het.
Die Hoërskool Lichtenburg het ook sý stem in die toernooi begin dikmaak toe hy Overkruin 10-7 in die uitspeelwedstryd om die derde en die vierde plek in die bekerafdeling geklop het.
Die dag se hoofwedstryd was die eindstryd tussen die Hoërskool Centurion en die Hoërskool Brandwag, waar eersgenoemde span as oorweldigende gunsteling op die veld gedraf het.
Dit was toe ook Centurion wat eerste punte op die telbord gekry het. Centurion het twee keer in die eerste helfte gaan druk, terwyl Brandwag net een keer agter die doellyn gaan kuier het.
Die tweede wedstrydhelfte was 'n wipplankryery, want die twee spanne het beurte gemaak om voor te loop.
Toe Brandwag kort voor die einde 17-19 agter was, het dit gelyk of die manne van Centurion die beker sou lig, maar die span van Benoni was nie van plan om die stryd gewonne te gee nie.
Nadat die Brandwag-spelers talle hardloopbewegings van stapel gestuur het, het Johan Pretorius uiteindelik in die hoekie oorgeduik vir die wenpunte en sy span 22-19 laat seëvier.