Het jy al ooit daaraan gedink dat die een ding wat mense die meeste van jou raaksien, jou hare is?
Ja, die kapsel wat party kinders ure en ure spieëltjie-spieëltjie laat speel, wat skindergroepies iets gee om oor te praat en wat jou gratis toegang tot die detensieklas gee.
Ek weet nie of dit net ék is nie, maar die skool is besig om ons almal se kapsels te vernietig.
As ek eendag bles is - weet dan dis oor die "knip-jou-hare-kort-haarstyl". Ja, ek ken die rympie van "skoolnetheid is belangrik, kom ons almal wees netjies en straal 'n positiewe beeld van die skool uit", maar mense, wat van jóú beeld? Jy's elke dag ses uur lank by die skool (dis nou as jy nie ná skool ure lank in die detensieklas plak nie). Die ander 18 uur is jy, wel, "jy" - en het jy darem 'n image om te handhaaf.
Ek's fine met skoolklere, 'n skooltas en selfs 'n skoolserp in die winter. Dit kan jy darem uittrek; ontslae raak daarvan sodra jy jou voet oor jou huis se drumpel sit. Wat die hare betref: Dis nie asof jy 'n pruik skool toe kan dra nie...
Onderwysers het altyd 'n probleem met jóú hare wat aan jóú behoort en wat uit jóú liggaam groei. Klaarblyklik is seuns se hare te lank en meisies se slierte onnet.
As iemand nou vir Saartjie in die gang kry, moet haar hare so styf vasgebind wees dat haar arme pupille heeltyd hemel toe staar - so asof sy bid dat die dag net moet verbykom. Sy kan darem nog ná skool die lokke loslaat.
Arme Jannie lê snags (ná skool, sonder 'n onderwyser in sig) met 'n mussie oor sy kop. Kom ons wees nou net so tegnies soos die onderwyser wat altyd netheid-inspeksies behartig. My beste pel, die HAT, omskryf "skool" as 'n plek of geleentheid waar jy iets kan leer. Daar word hoegenaamd nie van "netheid van hare" of "kort hare" of "sliertloos" melding gemaak nie.
Om 'n brandpad uit 'n seun se hare te maak, gaan nou nie juis die vonke van intelligensie aanhits nie. Glo my: Sannie sien die minus-teken in haar wiskundetoets raak - dis nie die sliert wat in haar pad hang wat veroorsaak dat sy nie die som kan doen nie.
Wat wel as belangrik geag moet word, is kinders se akademiese punte.
Ek wil tog nie 'n rebelse jeug skep nie, maar wragtie, gee darem 'n bietjie meer ruimte. Kinders sal tog nie way-out gaan nie, want hulle sit tog heeldag met dit wat hulle aanvang op hul koppe.
As dit dus nou tyd is vir 'n netheidsinspeksie, gryp eers die HAT en dan (as dit nodig is) die skêr. En as jy die prys betaal met detensie, hoop ek jou kapsel beloon jou en dat jy nooit grys word nie...