Brandmaer met spekvet beursie

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Blogger:

Aldu Duminy

Daar is iets in elke mens se lewe wat hy of sy graag sal wil verander.

Party mense smag na chirurgie, sommige omhels die een boom na die ander.

Ná ure se kosbare, hoë kognitiewe denke, het ek tot die besef gekom wat daardie één iets is wat ek graag sal wil verander . . .

My grootste droom is om eendag 'n sitting van 'n wêreldberaad by te woon. Ek's nie een van daardie eienaardige wesens wat graag my kop in luukse hoekies steek op soek na kaviaar en kreef nie.

En glo my, ek gaan nie my handtekening-boekie saamvat waarin wêreldberoemdes soos Kurt en Casper al geteken het nie.

Ék wil graag die oplossing vir molligheid, oorgewig, vetsug, poedingwange en souskluitjie-bene aan die wêreld bekend maak.

Ja, ek het gedink aan 'n sinvolle, logiese en wetenskaplike metode, oor hoe die mensdom van hul "babavet" ontslae kan raak.
Waarom betaal mense nie volgens die klere-grootte wat hulle dra nie?

Ek kan nie verstaan waarom Helen en Jacob nog nie aan dié spog-idee gedink het nie. Dit maak tog sin. Op die oomblik is al die riete besig om vet mense te subsidieer.

Arme Maer Marie, wat 'n X-small-toppie dra, betaal net soveel as Vet Let wat lakens rondom haar heupe drapeer.

As dit was dat Lettie ekstra moes betaal vir elke X en L, sou sy sekerlik minder Happy ­Meals verslind het.

My ideale hap vet aan twee kante. Mense sal wil gewiggies afskud omdat hulle dan soveel minder vir klere kan betaal. Hoe maerder jou lyf is, hoe dikker is die beursie.

En dan ook, wanneer jy ekstra geld moet opdok vir die tent-baadjie, gaan jy minder geld hê om te belê in jou middel.
Kom ons stel vir 'n oogwink my ideaal in plek.

Vet Let kan skielik nie meer haar finansiële verpligting ten opsigte van haar hemelhoë klererekening nakom nie en is verplig om 'n maand lank op 'n eetstaking te gaan. Vetsug: opgelos.

Nou, waarom sou dit wees dat Maer Marie so slank is? Dalk is dit omdat sy nooit geld gehad het om voedsame voedsel te eet nie, omdat sy moontlik net te veel geld aan haar kledingstukkies moes bestee. So word selfs sy uit die bose kloue van té veel eet gered.

Dié konsep sny vetsug aan twee kante: Vet mense word die geleentheid ontneem om te ooreet en maer mense kry die geleentheid om te eet.

As jy in 'n winkel kom en jy sien dat die XX-large-toppie skielik twee-keer soveel kos, kan jy my maar vloek. Ek weet net, wanneer jy in daardie X-small klim, sal ek jou rolmodel wees. -  Aldu Duminy is een van JIP se JJ's. Hy is in gr. 11.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar