Toe ek 16 was, was daar posters van die Backstreet Boys, NSync, Westlife, 5ive en Boyzone in my huiswerkboek geplak.
Die lewe was goed.
Nou ja, vandag is nog net Westlife op die been, maar dis ook nie meer dieselfde as tien jaar gelede nie. Brian is weg, en Mark is uit die kas. Maar hulle's darem nog daar.
Maar vandág se 16-jarige. . . Ai, julle stel my teleur!
Elke keer as ek "baby baby baby ooooh" hoor, maak my maag so 'n hier-kom-dit-nou-draai en kry ek stuipe van irritasie.
Die rede is eenvoudig.
Justin Bieber.
Is ek te oud om die Bieber fever te begryp?
Ek dink nie so nie. Sien, ek is eintlik aan popmusiek verslaaf. Asook aan ouens. Verál aan popmooi-gesig-ouens.
Wat is dan my probleem?
Moenie jou oë vir my rol nie, en leer die 26-jarige tannie 'n bietjie, toe?
Is dit sy haarstyl? Want dis die eerste ding wat ek sien. Maar dis nie uniek nie. Die Beatles - die beste band in die geskiedenis - het dit in die 60's ge-rock.
Is dit dan sy stem? Uhm, nee, dit kan ook nie dit wees nie, reg? Enigeen kan sing.
Selfs Paris Hilton het 'n CD op die rakke. En het die Biebs se stem in elk geval nie soos eergister gebreek nie?
Is dit dan sy danspassie, wat ek toegee, nogal indrukwekkend is? Nee. Hy kom in elk geval nie naby Michael Jackson nie.
Um. . . dalk is dit sy klere. Nee wat, blink en bling is nie iets wat 'n tienerseun ooit mág dra nie.
Dis dan sy lirieke, nè? Want nes ons Afrikaanse volk hou van 'n treffer met die woorde "baby", "bokkie" of "vanaand", slaag "baby", "baby" of "baby" ook vir die jongklomp.
Al wat ek eintlik vra, is dat iemand my oortuig dat hy dieselfde impak op tieners kan hê as wat boybands eens op my gehad het.
Met boybands was die opsies net soveel meer. Meer stemme, meer woema, meer oemf.
In die geval van één tiener-Bieberisme. . . sien ek net 'n 12-jarige gesiggie.
Ek sien nie 'n stér nie.
Is hy régtig so awesome soos tieners voorgee? Of is ek te oud om die hype te verstaan?
As dit Justin Timberlake van NSync was. . . dán het ek verstaan.
Sien? Boybands rock.