Boland hou sy Cravenweek-belofte

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Leroy Bitterhout, die Boland SA Skole-vleuel.

In die gees van die patriotisme was dit maklik om die Boland met goeie wense na die o.18-Cravenweek hier af te sien.

Op papier het hulle egter lig op die skaal en lig in die broek voorgekom. Maar hul kaptein, Wiaan Liebenberg, het vooraf 'n vertoning soos dié van 2008 belowe, toe die Wynlanders onoorwonne was.
Meneer Liebenberg, jy is toe inderdaad 'n man van jou woord.

Saam met die Vrystaat is die Bolanders die enigste onoorwonne span op vanjaar se groot skolerugby-saamtrek.
Daarbenewens het hy ook twee spelers in die Suid-Afrikaanse skolespan opgelewer - Liebenberg en die bitter vinnige vleuel Leroy Bitterhout.

Hul week het met 'n vernietigende oorwinning van 41-11 oor die Limpopo Blou Bulle begin.

Daarna het die Goue Boortjies die gasheerspan, die Griffons, se hart met 36-34 gebreek.

Ja, ja, het die mense gesê, die Boland is nogal opwindend op die oog, maar Natal gaan hulle op die laaste dag hard stamp.
Ekskuus?! Die telling was toe 49-23, en die Piesangboere wonder seker nou nog hoe hulle so 'n pak op die lyf geloop het.
Die Streeptruie het ongelukkig Saterdag in die hoofwedstryd teen die Vrystaat met 42-21 verloor.

Die plaaslike ondersteuners het vooraf vreeslik verskoning gemaak vir hul span wat nie teen die "magtige WP" opgewasse is nie.
Maar dit was ook einste hulle wat van hul vroeëre verskonings vergeet het toe "Grey se derde span die WP-spelertjies geklop het". Nou ja, hier in die Kaap hou ons dinge liefs beskeie of sommer doodstil.

Wat ons wel sal sê, is dat die WP sy plek in die hoofwedstryd verdien het, danksy seges van 20-3 (Leeus) en 58-17 (OP).

Dit moet ook genoem word dat ál vyf WP-skolespanne (o.13 B, o.13, o.16, Akademie en Cravenweek) hierdie vakansie in die hoofwedstryd van hul onderskeie toernooie gespeel het, en dat vier dit gewen het.
En die span wat wel vasgeval het, is nie nou skielik 'n tweede of derde keuse nie, liewe Blikoor. Ons vat ons pak!
Die SWD kon net een sege behaal, maar was hy 5 cm langer, was die Jong Arende se skrumskakel, Percy Williams, straks in die Suid-Afrikaanse skolespan.

Was daar al ooit so 'n dapper kabouter? Jip glo nie so nie.
As dit van die media hier afgehang het, was Williams eersdaags op pad Windhoek toe om sy land teen die Namibiese o.19-span te verteenwoordig. Hy was immers Woensdag die speler van die dag.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar