Mense sê altyd die lewe bestaan uit keuses.
Blykbaar kan jy kies of jy 'n tjokkie wil verslind of nie. Ek kon nog nooit so 'n keuse uitoefen nie. Mense kan glo kies watter soort motor hulle wil ry. Albei my ouers is pedagoë, en hulle kon nie juis kies tussen 'n Ferrari en ons groen blikmonster nie.
Die eerste keuse van jou lewe was jou nié beskore nie. Wie van ons kon kies tot watter gesin ons wil behoort? Ek dog jou lewe bestaan uit keuses.
Ek het nou al vrede gemaak met die groepie waarmee ek opgeskeep is, maar ek weet regtig nie hoe ander dit kan doen nie.
Vat nou maar die eienaardige gesinsuitstappies wat onderneem word - deur dié wat die nodige geld daarvoor het. Wie wil in die wintervakansie wildtuin toe gaan? Ek sou dit nooit wou doen nie. Daar sit jy tussen niks en nêrens in die middel van die boendoe.
Blykbaar geniet mense dit ook vreeslik om in tente te slaap. Wat sulke uitstappies bo ander laat uitstaan, is as daar niks warm water is nie en die een of ander wilde gedierte in die nag brul.
Ek is nie een van die grootste natuurbewonderaars nie. Ek was nog nooit in die wildtuin nie, maar danksy Google weet ek meer as sommige fauna-en-flora-aanhangers.
Kinders wat in sulke omstandighede vasgevang is, sou sekerlik 'n ander keuse uitoefen.
Soos ek nou al uit jare se wildtuin-vertellings aflei, kom daar 'n beperkte diversiteit diere voor. Dis nie Suid-Afrika se biodiversiteit wat tussen die geroeste draadjie vasgevang is nie, en daar is nie net een van elke spesie nie. Dit is waarom die wildtuin regtig onvergeetlik is. Daar kry jy die geleentheid om dieselfde dier vyf keer van alle kante te beskou.
Dalk is die gesinne wat die wildtuin besoek, nie goed ingelig oor dít wat in die wêreld aangaan nie. In die 21ste eeu is daar televisie met kanale soos Animal Planet en die Discovery Channel.
Dis waar ek al my kosbare kennis kry - net sonder haelstorms of malaria. Ek hoef ook nie snags onder 'n muskietnet te slaap en kort-kort vir 'n gogga te koes nie.
Diegene wat hul Junie-vakansie in die wildtuin opoffer, hou boonop daarvan om foto's te neem. En om die een of ander rede laai hulle dié besonderse foto's op Facebook. Die beste blik wat ek onlangs op die wildtuin gehad het, was dié van 'n gesin wat in 'n voertuig sit en 'n man met 'n kakie-uniform wat by die bestuurder se venster staan. Die onderskrif: "Hier teken pappa 'n boete nadat hy 28 km per uur in 'n 20 km-sone gery het. Die wildtuin is en bly maar net wonderbaarlik."
Aldu Duminy is een van JIP se JJ's en 'n leerder aan die Hoërskool Langenhoven in Riversdal.