Die glanspaartjie Beyoncé en Jay-Z is ingesluit op 'n lys van die top- uitvoerende musiekbestuurders op die tydskrif Billboard se eerste Power 100-lys.
Die musiekbedryf se invloedrykste mense word hierin vervat.
Net 'n paar musikante het die lys gehaal. Die lys is saamgestel deur te kyk na onder meer inkomste, markaandeel en data van die Billboard-treffersparade.
Die voorsitter van Live Nation Entertainment, mnr. Irving Azoff, is bo-aan die lys, gevolg deur mnr. Coran Capshaw, die stigter en vennoot van Red Light Management. Die voorsitter en uitvoerende hoof van die Universal Music Group, mnr. Lucian Grange, is derde.
Jay-Z en Beyoncé het gesamentlik die 13de plek behaal.
Die rockgroep U2 is nommer 27 en die popsensasie Lady Gaga nommer 84. Sien die hele lys by Billboard.biz.