"Hallo oom, hallo tannie..." Foto: Jan Gerber
aKing het hul set Dinsdagaand by die Barnyard-teater in hul tuisdorp Bellville begin met "Set ourselves up". Dit was ‘n gepaste keuse.
"And we set ourselves up set ourselves up," het bossiekop Laudo gebulder in dááí stem van hom. Inderdaad.
Ek moes lont geruik het toe my ma vir die eerste keer vir my aanwysings kon gee na ‘n gig toe. Ek moes van beter geweet het toe ek moes betaal vir die voorreg om langs ‘n Harley Davidson-handelaar te parkeer.
Binne die teater het heelwat vermeende rekenmeesters gesit met hul blou-en-wit gestreepte knoophemde en beige of guacamole-kleurige moulose truitjies. (Hulle het seker geskiem wie is dié takhaar joernalis in sy skinnies en swart biker-baadjie).
Ja, ek het gesê gesit.
By sulke houtafeltjies. Die hele plek vol.
Daar was ook ‘n paar WP-rugbyspelers, onder andere Duane Vermeulen, Morgan Newman en Francois Louw.
Nou, deur my in-diepte antropologiese studie van rockgigs die afgelope paar jaar het ek tot die volgende gevolgtrekking gekom: ‘n Suksesvolle gig het drie elemente - ‘n gatskop band, ‘n lekker crowd, en ‘n gepaste venue.
As die venue nie so lekker is nie, kan die gig nogsteeds suksesvol wees as die band gat skop en die crowd lekker gees het.
Dié gig was nie suksesvol nie.
Ek blameer nie aKing daarvoor nie. Hulle het probeer gat skop. Laudo het op ‘n stadium opgemerk hy sien hierdie ramp voor hom die crowd in, maar voel te geïntimideerd om daarop te loop, want die mense sit en eet.
Die mense was gevrek. Dit is so half ironies dat ‘n band wat ge-spawn is deur Fokkofpolisiekar, die fakkeldraers van ‘n middelvinger aan die Afrikaner-middelklas, só ‘n crowd - in hul tuisdorp van alle plekke! - kry.
Dit het my laat dink aan die keer toe The Beatles by een of ander ding van die Queen gespeel het en John Lennon gesê het die mense moet hul jewelery skud.
Die venue sou dalk beter gewerk het as hulle ‘n akoestiese set gespeel het. Dalk. Miskien moet mens ‘n Taxi Violence gig daar reël en dit bemark as ‘n Rock me Amadeus-vibe.
Kan jy die ooms en tannies se gesigte voorstel as George van der Spuy so met sy een arm agter die rug op en af begin bons en sing: "Rock out... with your c--k out! Rock out!"
aKing het so ‘n paar nuwe songs vir die eerste keer gespeel. Dit klink soos aKing-songs, wat nie ‘n slegte ding is nie. Mens hoop hulle is lekker avontuurlik in die studio.
Hul laaste song was Facebrick Constellations: "It's the boredom that beats yoouu, and the sound of it echooooeeeeeesssss..."
Inderdaad. Weereens ‘n gepaste keuse.
Toe ek by my kar langs die Harley Davidson-handelaar kom (waar die vermeende rekenmeesters oor 20 jaar vir hulle Harleys en leathers gaan koop), vra ‘n vrou: "Do you want to buy a dolphin?"