Is Batman ‘n superheld?
Dames en here, hierdie tergende raaisel is reeds met ons sedert ongeveer 1940. En daar is geen logiese rede daarvoor nie. Dis soos om te vra of lê en eet jou horings sal gee - natuurlik nie. Ek eet hoofsaaklik in ‘n lêende posisie voor die TV en ek kan steeds elke oggend met groot gemak my hare kam. O, en gepraat van TV - my oë is ook nog nie vierkantig nie.
‘n Superheld verskil van ‘n plaaslike held in een opsig: die "super"-gedeelte. En dan natuurlik die gewoonte om onderbroeke bo-oor klere te dra. Die eerste aanduiding dat Batman ‘n gewone mens is, is dat sy onderbroek ten minste darem swart is. Dit sê vir ons dat hy beskik oor daardie tipiese menslike eienskap van skaamte. Goed, daar is baie gewone mense wat ook nie juis skaam is nie, maar onthou, Batman is ‘n goeie mens. Hy mag dalk nie ‘n superheld wees nie, maar hy is ‘n heldhaftige hoofseun.
Kan Batman ‘n perd met een hand oplig? Pippie Langkous kan. Superman kan ‘n hele perdeplaas met een hand oplig. Spider-Man, wel, hy's nie heeltemal so sterk nie, maar daar is die bomenslike spinnekopperigheid... As Batman as kind deur ‘n vlermuis gebyt is, was dit dalk ‘n ander storie. Dalk het hy dan blind geword, maar kon met supersoniese golwe in die nag rondvlieg sonder om in goed vas te vlieg. Hy kon selfs in ‘n superskurk of ‘n vampier verander het, met dié dat vlermuise nou nie juis ‘n inspirerende simbool van gesag, integriteit en onkreukbare karakter is nie.
Wat hy wel is, is bomenslik ryk. Maar ek dink die eintlike superheld in Batman se geval is die arme Alfred, wat elke keer moet kyk hoe ‘n grootmens soos ‘n vlermuis aantrek om boewe vas te trek. Dat hy nie histeries aan die lag gaan nie, is ‘n bewys van ‘n bomenslike vaardigheid.
Natuurlik sal daar van julle wees wat van my verskil, maar ek kan nie eintlik sien hoekom nie. Ek sou ook nie die kans waag as ek jy is nie. Net môre klop ek dalk aan jou deur met horings en vierkantige oë en my onderklere bo-oor my klere. Aan die ander kant - dis dalk so ‘n skokkende ervaring dat jy daar en dan jou eie superkrag ontdek. Dan kan ons vir tyd en alle ewigheid in ‘n epiese stryd gewikkel wees met triljoene rande se comics en flieks en mannetjies en goed. Onthou net ek kry ‘n groter deel van die geld, want ek is die een met die horings en die vierkantige oë en ‘n pienk Jockey bo-oor my jeans.
Bff! Urgh! Kapow!