Balkiedraers nie beter as die res

  • 3
    like dit
  • 0
    like dit nie

Dis dáárdie tyd van die jaar by die meeste skole. Gr. 11's sit hul beste voetjie voor. Bring appels vir die onnies en gluur onderlangs vir hul klasmaats.

Jip, dis tyd vir die leiersverkiesing...

Maar wat is leierskap nou eintlik? Hoekom kon die hoofseun van die laerskool nie eens die benoemingslys op hoërskool haal nie?

Of hoekom is die hoofseun van die laerskool juis wéér die hoofseun op hoërskool en wéér die kaptein van die rugby-, krieket- en hokkiespanne?

Is dit 'n geval van net raakgesien - of miskien raakgehoor - word, of kan ander werklik die opregtheid en wilskrag om suksesvol te wees, raaksien? Is dié leier 'n oortuigende debatvoerder, of is hy net gewild omdat hy 'n grapmaker is?
Ek is geen kenner nie, maar hier is my. . . noem dit maar "vergelyking": Leierskap is soos 'n rugbywedstryd.

Daar is die kaptein wat sy span lei en motiveer. Dan is daar die doodgewone spelers wat maar net wil rugby speel en hul werk wil doen.

Ongelukkig is daar ook dié spelers wat nie daar hoort nie en in die span is omdat hul ooms die truie borg of omdat hulle die grootpraters is.

Dan kry jy die natuurlike talentvolle speler, wat soveel talent het soos al die teenstanders se spelers saam. Dis gewoonlik dié speler wat besef hy is deel van 'n span en dat hy nie alleen teen die ander span kan uitdraf nie.

Dis juis dié speler wat nie selfsugtig speel nie en eindelik die beste uit elke spanmaat haal, want, "A good leader knows when to follow" en spanwerk waarborg 'n drie.

Daar is ook die mense wat dan nou nié die eerste rugbyspan gehaal het nie, of nié as leier van sy skool gekies is nie. Hulle verkies om toeskouers te wees (of nie).

In watter kategorie jy ook al val, dis nie die be all of end all van die wêreld nie.
Teen dié tyd het jou mos jou eie identiteit. Die etiket wat op skool om jou nek hang, gaan nie bepaal waarheen jy op pad is met die res van jou lewe nie.

Net omdat jy nie nou raakgesien of -gehoor (wil?) word nie, beteken nie jy is nie goed genoeg nie.
Miskien dink jy ek wil jou net laat beter voel. Nee, gee die leiers wat hulle toekom, maar onthou dat nie alle wêreldleiers of suksesvolle mense al op skool uitgestaan het nie.

Ek wonder of die tromspeler van Heuwels Fantasties of die aktrise Miley Cirus op skool leiers was. En of dit régtig belangrik is. Sal dit beïnvloed of jy na sy musiek sal luister of nie, of sal dit jou oortuig om nou eerder nié haar flieks te gaan kyk nie?
En dié van julle wat wel as leiers gekies word, hou maar die kop klein en respekteer die ou wat nié daai balkie dra nie. Hy is dalk eendag jou baas.

Lizelle Pistorius is in gr. 11 by die Hoërskool Middelburg in Mpumalanga. Sy is een van JIP se JJ's.

Gebruikers Kommentaar (1)

  • Danielle Beugger
    8 months ago
    Thanx vir hierdie teks. Dit het my meer laat varstaan dat enige iemand 'n leier wees al dra hy/ sy 'n baaldjie ,maar wat van die wat 'n baaldjie dra en nog arrogant is , wat ek dan veral as die juffrou nie wil glo as ek dit vartel dat hy/ sy so is?
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar