ONVERWAGS betrap die sielvolle, pragtige klank van Auriol Hays se sang jou wanneer jy na Aerodynamically, die eerste snit op haar album Behind Closed Doors, luister.
Sou 'n mens haar Suid-Afrika se Amy Winehouse kan noem? Miskien. Die style is amper dieselfde, daardie heerlike jazzy-pop-mengsel wat 'n mens se tone van lekkerte laat omkrul.
Tog wil jy eintlik nie vergelykings tref nie, want Auriol se musiek is in 'n klas van sy eie.
Die snitte op haar album bewys dit weer en weer. Luister maar na 'n splinternuwe verwerking van Ain't No Sunshine, die smeulende Nostalgia en Love & Chocolate.
"Musiek is 'n proses. Alles daarvan is pret," het Auriol verlede week tydens 'n telefoononderhoud vertel.
Dié Kaapse sanger vertel hoe 'n kontakboodskap op Facebook aan haar daartoe gelei het dat 'n platemaatskappy haar 'n kontrak aangebied het en die bal aan die rol gesit is.
Nou is haar album uitgereik, haar musiekvideo vir Take it slow is op YouTube - en kommentaar is positief - een reply lui selfs "dié vrou is hot".
"Ek dink dat ek ouer is - ek is nou 32 jaar en het 'n man en kinders - help dat ek dinge nie te ernstig ag nie. As ek jonger was, sou ek dit dalk anders gehanteer het," sê Auriol.
"Ek het nooit verwag dat my musiek so ver sou vorder nie. Ek het dit basies daargesit en gedink ek sou daarvan hou om 'n platekontrak te kry. Bo alles is musiek vir my pret."
Op haar webwerf, www.auriolhays.com, blog dié sanger ook. En dit is werklik die lees werd.
"Ek het nog altyd geblog, dit is 'n manier om sane te bly," vertel Auriol. In 18 November se inskrywing vertel sy onder meer van 'n besoek aan 'n psychic - en hoe sy later sou ontdek dat antwoorde nie noodwendig 'n oproep ver is nie.
Ook is daar reeds planne vir die tweede album. "Ek dink dit gaan baie interessant wees. Daar gaan 'n sinister sy aan die musiek wees. My skryfvennoot, André, gee 'n lekker balans aan die musiek. Hy skryf gewoonlik ligte stuff en ek 'n bietjie swaarder goed. Dié keer het ek vir hom gesê hy moet nou weer die donkerder, emosionele goed skryf."
As dié album net so goed soos haar Behind Closed Doors gaan wees, kan ons beslis nie wag nie. Dié girl het beslis wat dit verg om musiekfans se aandag te behou.