Hoekom hou 'n mens verjaardag?
Of liewer, hoekom sê 'n mens geluk? Dit is nie asof ons iets bereik het deur 'n jaar ouer te word nie. Al wat die meeste van ons gedoen het, was om 'n bietjie meer koolstofdioksied in die atmosfeer vry te stel en by te dra tot aardverwarming.
Watter positiewe bydrae het jy werklik in jou afgelope jaar tot die mensdom gemaak? Om te stort, tel nie, hoewel ek glo die mense om jou waardeer dit. Ek bedoel: Wanneer laas het jy régtig 'n verskil gemaak?
Verlede week was dit Madiba se verjaardag en jy moes slegs 'n kort tydperk van 67 minute iets goeds vir die mensdom doen. Dit is eintlik simpel. Jy kan nie die hele jaar lieg en bedrieg en jou gewete probeer sus deur gou-gou toebroodjies te maak nie. Wie van julle het wel iets gedoen? Onthou, jok is 'n sonde. Ek moet bieg dat ek niks gedoen het nie. Ek het geredeneer ek gee darem so af en toe vir bedelaars geld. Dan gaan koop hulle meestal drank, maar dit is nie die punt nie. Die punt is. . . mmm, wat is die punt? Die wêreld gaan nooit werklik 'n beter plek word nie. Daar gaan altyd arm mense wees.
Misdaad.
Korrupsie.
Justin Bieber.
So, wat help dit 'n mens probeer help? Om 'n klip in die middel van die see te gooi, gaan geen rimpel-effek hê nie. Ek hoor 'n stemmetjie in my kop, of was dit die TV in die agtergrond? Die stemmetjie sê: "Probeer ten minste een mens help, dan is dit 'n begin." Sug.
Ek haat daardie stemmetjie. Dié stemmetjie lei tot moeite.
Ek sal maar gaan bloed skenk. Hulle sê 'n mens kry koekies as jy klaar is. . . en 'n badge. Dan kan ek ook voel ek het iemand gehelp. Selfsugtig!
Ek help dan mense om myself te laat beter voel. Nie cool nie. Ek sal maar die badge los en die koekies 'n skip gee. "Dis verniet!" roep 'n stemmetjie weer. Dié stelling dra ook gewig, want in die huidige ekonomiese omstandighede kan jy nie so 'n kans laat verbygaan nie. Ek redeneer met myself. Die lewe is ingewikkeld.
Weet jy wat? Ek dink 'n mens moet geluk gewens word op nog 'n jaar se oorlewing. Dit is nogals 'n prestasie. - Christiaan is in gr.12 by die Hoërskool Swartland in Malmesbury en is een van JIP se JJ's