Ons hoor en sien alles wat hulle aanvang. Wat hulle doen en wie hulle is - dit weet ons.
'n Mens kan maar eintlik sê ons "ken" hulle baie, baie goed. Wie dan anders as die mense wat hulle hare afskeer en daarna 'n fotograaf se ruit met 'n sambreel uitslaan?
En net wanneer ons dink "hier kom nou 'n blaaskans", maak hulle 'n behoorlike terugkeer , stap grasieus op die rooi tapyt uit en slaan ons asems weer weg. Wie dan anders as die celebrities - die bekendes en sterre.
Hulle verskaf aan ons vermaak. Die doen en late van hierdie sterre word elke dag in ons gesigte gevryf. As hulle Namibië toe gaan om die lewe te skenk aan 'n baba - jy sal die foto's sien.
As hulle in 'n rehabilitasiesentrum opgeneem word, sal jy definitief die oorsaak weet. Daaglikse inkopies, nuwe liefdes en geflopte uitrustings - jy gaan daarvan weet, of jy nou wil of nie.
Lank, lank gelede het ek gemeen die lewe van 'n superster is die lewe wat ek eendag sal wil lei. Hoe dan anders? Saam met die gewildheid kom daar bling-bling, duisende vrygewige aanhangers en kan jy elke dag in 'n bus rondry waarop jou naam en gesig gedruk is.
Gelukkig het ek oor my kinderlike naïwiteit en die idee van 'n "Annemie"-bus gekom. 'n Lewe onder die vergrootglas, voor miljoene kritiese oë . . . hóé prettig is dit nou eintlik?
Net soos wat die hip hop-konings T.I en Usher daaroor rap: "You know I gotta look good when I walk out the house, You know, I know the camera's following, I know they are taking pictures. Ay man, you watch it. I live it, you dig that . . .my life, your entertainment. Just here for your amusement."
Met die skindertong-aardbewing wat veral Michael Jackson se heengaan besorg het, het ek maar net weer my sogenaamde "alledaagse sosiale posisie" waardeer.
My vriendin het onlangs verklaar: "Ek sal nie verbaas wees as Michael Jackson nog leef nie. Miskien het hy die hartaanval as rookskerm gebruik, 'n ontsnappingsroete uit die mal media-sensasie."
Ek sou ook. Gewildheid?
Nee dankie, ek verkies liewer my vervelige, onbekende bestaan. My probleme, lewe en skandes net gedeel met my naastes. My identiteit ken die mense rondom my deur persoonlike ervaring, saamkuier en saam lag.
Dit is nie beskikbaar op Wikipedia of in die jongste uitgawe van die "warm" weeklikse sensasietydskrif nie. Wie ek is en wat ek doen, is nie oopgevlek, opgetower en ontleed onder 'n openbare soeklig nie.
Almal kan sien wat jy aanvang . . . onder die helder lig van bekend wees.