Antwoorde in droomland

  • 12
    like dit
  • 0
    like dit nie
Blogger:

Willim Welsyn

Ek droom gisteraand hoe ek 'n kort arrogante verkeerskonstabel met cable ties vasbind en honderde pienk papiertjies in sy mond druk.

Ek het groot oorfone op sy kop gesit waaruit K.O.B.U.S! se liedjie "Ons ry in die kar" op repeat speel. Ek onthou ook dat ek vir hom gesit en kyk het met 'n bak popcorn terwyl hy huil. Daarna het ek sy motorfiets gesteel en Spur toe gejaag.

Ek het met vreeslike skuldgevoelens wakker geword. Die onheilighede wat soms in jou slaap aangaan kan ontstellend
wees.

Ek leer vandeesweek in my sielkundeklas van Sigmund Freud, seker een van die belangrikste teoretici oor die onderbewussyn. Freud noem drome "die koninklike pad na die onderbewussyn", drome beeld dus die "logika" van die onderbewussyn uit.

Die onderbewussyn werk grootliks deur dit te onderdruk. Dit is die basiese beskermingsmeganisme wat verbode drange, wense, konflikte of herinneringe van die super-ego na die onderbewussyn verplaas.

Die rede hoekom drome dikwels so deurmekaar is, is sodat die mens rustig kan voortslaap sonder om ontsteld te wees oor wat hulle besig is om te ervaar. Soos 'n droomsensor. Nagmerries gebeur as die droom te scary raak en die droomsensor met vakansie gaan.

Freud was seker reg. Op pad na die Up the Creek-fees is ek vir twee padoortredings deur 'n verkeersbeampte "geskryf". Ek wou seker nie in daai stadium daarmee deal nie en toe onderdruk ek my verbode drange. Wie wil nou kwaad by 'n rockfees opdaag? Die Maandag en Dinsdag kry ek toe parkeerboetes. My kar lyk soos 'n hamsternes van al die pienk papiertjies.

Dankie Freud, maar nou voel ek nog méér skuldig, want in my onderbewussyn skuil klaarblyklik 'n wrede martelaar wat net wil jaag, vreet en K.O.B.U.S! luister.

Gebruikers Kommentaar (1)

  • jakes
    4 months ago
    snaaks.
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar