Dinge kan nooit net goed gaan nie! Sondag het ek 'n bondeltjie goue labrador-hondjie gekry.
Die oulikste ding wat jy nog gesien het.
Dis 'n stap vorentoe in my verhouding met my meisie.
Ons het baie verlief gaan slaap en 3:30 die oggend wakker geword met iemand wat by ons nuwe huis probeer inbreek.
Dis sommer 'n klomp snert en ongelooflik irriterend vir my. Ek het op die verdagte geskree dat ons die polisie bel en my meisie het, maar hulle het nie geweet waar ons bly nie. Gelukkig het die area waar ek bly 'n windgat-sekuriteitsfirma.
Ons het hulle gebel en 'n hoogs gespesialiseerde bra het binne 2 minute (2 minute!) van wat ons hom gebel het opgedaag en die hele huis veilig verklaar.
Ek is seker baie van julle is al deur dieselfde affêre. Baie van julle is deur baie erger. Enigiets kon gebeur het.
Dit is so 'n aaklige gevoel van magteloosheid.
Wie de hel dink hierdie ou is hy om my lewe te kom probeer versuur? Asof ek nie genoeg moeilikheid het om my oor te bekommer nie, moet ek nou nog oor die basiese beginsels ook tob?
Wat help dit om te kla? Is dit dieselfde vraag as "wat help dit om te stem"? Ek het nie diefwering of elektriese heinings nie en dit is dom.
Maar hoe dom is dit nie dat dit dom is om nie jou huis soos 'n tronk te maak nie?
Is ek net besig om optimisties te wees hierso?
Was dit nog altyd so? Dit was, nè? Die gevorderde samelewings bou skepe en brand en steel en verkrag die "wilde" mense op die nuwe kontinente. Dan trek die peasants die royalty in die quad in en bestorm die kasteel. Nou vermoor en besteel almal maar mekaar en by mekaar en so gaan dit.
Nou lees ek weer News24 se webblad en voel dom omdat ek so 'n groot bohaai maak oor iets wat nie eers so erg was nie.
Ek was seker maar gelukkig hierdie keer. Almal van ons loop elke dag die risiko om te vrek.
Dis aaklig. Mens kan seker nie regtig so dink daaroor nie. Ek neem aan mens moet maar die beste doen om veilig te bly. Nie veel het verander vandat ons in die bos gebly het nie, lyk dit my.
Ons het net die rolle ingeneem van beide roofdier en prooi. Soos denkende (?) diere. Ek wil net weet hoe hulle kan verwag dat ons almal vorentoe moet kyk as ons konstant oor ons skouers moet loer?