14 en swanger

  • 151
    like dit
  • 34
    like dit nie
Grafika: Morné Schaap

Wat dink jy as jy verby ’n swanger tienermeisie loop? Hoe dink jy sou jy voel as dit jy was? ROZANNE ELS het gaan uitvind presies hoe Tracy Engelbrecht gevoel het toe sy op 14  jaar swanger geraak het.

Tracy het besef sy is dalk swanger 'n paar weke nadat sy met die 19-jarige David 'n verhouding aangeknoop het. Dieselfde dag as wat haar swangerskaptoets 'n tweede keer positief was, het 'n bang en verwarde Tracy haar ouers vertel.

"Dit was 'n aaklige nag," sê sy.

Haar ouers was geskok, kwaad, bang en teleurgesteld. "Ek het hulle seergemaak en die skuldgevoel was aaklig. Ek voel steeds siek as ek aan daardie aand dink."
Maar ten spyte van moeilike tye wat vir hulle voorgelê het, het sy nooit getwyfel dat hulle vir haar lief is en haar sou ondersteun nie.
Volgens haar het groepsdruk nié 'n rol gespeel in haar keuse om seks te hê nie. "Dit was 100% my besluit en ek kan nie die skuld vir iemand anders gee nie."

Ten spyte van haar vrese en angs was sy ook vasbeslote om nie van die situasie weg te skram nie.
Haar wêreld is nietemin omvergewerp. "Om ‘daai swanger meisie' te wees, het veroorsaak dat almal anders na my gekyk het, veral omdat ek tot op daardie tydstip as 'n good girl beskou is."

Haar verhouding met haar gesin was maande daarna gespanne.
"Gelukkig het hulle verstaan dat die besluit om my baba te hou, slegs myne was. Hulle het my besluit aanvaar, al was hulle bang vir my toekoms en al het ons nie geweet hoe ons 'n baba sou kon bekostig nie."

Haar sosiale lewe het ook verander omdat sy haar van haar vriende onttrek het.
"Die laaste paar maande wat ek in die skool was, was baie moeilik. Niemand was blatant lelik met my nie, maar ek was baie afgesonder. Die skool het begrip gehad en my nie geskors soos ek verwag het nie. Baie van die onderwysers was besorg oor my."
Maar sy het steeds onder hewige kritiek deurgeloop. Baie mense het aangeneem sy het rondgeslaap, en 'n non in die hospitaal waar haar seun gebore is, het vir haar gesê sy gaan hel toe.

Die tiener Tracy het gevolglik oornag verdwyn. "Ek moes. Ek was nou verantwoordelik vir 'n ander mens en 'n selfgesentreerde tienerlewe is nie versoenbaar met goeie-ma wees nie."

Maar sy het ook baie by die situasie baat gevind, sê sy. "Ek het 'n rede gehad om op te staan in die oggend. Ek en my gesin is nou nader aan mekaar. En natuurlik het ek nou 'n pragtige kind."

Sy het matriek deur 'n korrespondensiekursus voltooi (nogal met twee onderskeidings!) terwyl sy tuis na haar baba omgesien het.
Tracy se verhouding met David het egter doodgeloop, deels omdat hy nie die verantwoordelikheid kon hanteer nie. Hulle het glo tydens hul verhouding voorbehoeding gebruik - Tracy was op die Pil en hulle het kondome gebruik, met die uitsondering van een geleentheid. Sy het ook die morning-after-pil gebruik, maar dit was onsuksesvol. Sy het aborsie en aanneming oorweeg, maar wou die baba self grootmaak.
Vandag, sê Tracy, sou sy niks verander aan die paadjie wat sy geloop het nie.

Haar raad aan tieners:
Aanvaar verantwoordelikheid. Vra hulp, maar neem die besluite self. Is jy bereid om moeilike keuses te maak om 'n goeie ouer te wees? Moenie in ontkenning vasgevang word nie. Jy kan net een keer kies.
Raad vir ouers:
Maak seker jou kind weet jy ondersteun hom of haar. Onthou dat jy nie teleurgesteld of kwaad gaan bly nie. Moenie jou kind dwing om 'n sekere besluit te neem nie. Die besluit om 'n kind te hê of nie, is een van die persoonlikste besluite wat enigiemand kan neem. Niemand het die reg om dié besluit namens iemand anders te neem nie.
Maak seker hulle is bewus van die gevolge en werk saam om 'n plan vir die toekoms te maak.


Gevolge en gevare
Gesondheid: Moedersterftes, lae geboortegewig, babasterftes
Ekonomies: Laer gesinsinkomste, meer afhanklik van hulp, armoede
Opvoeding: Afwesigheid van skool, swakker akademiese prestasies, laer opvoedingsvlak, swakker opvoedingsuitkomste
Sosiaal: Stigma en diskriminasie, moontlike mishandeling, gedragsprobleme by kinders

Hulp
Famsa  021 461 7360
Ouersentrum 021 671 9142
Aannemingsentrum 021 674 4170
Options 021 592 2183
Rapcan  021 448 9034
Lifelink 011 394 8560 of 083 562 6106
Lees The Girl Who Couldn't Say No deur Tracy Engelbrecht; Oshun; ISBN: 978117005740

Vinnige feite
- Die aantal swanger leerders het tussen 2004 en 2008 toegeneem.
- Die meeste tieners wat swanger raak, is tussen 17 en 19 jaar oud.
- Sosiale omstandighede, waaronder armoede en die teenwoordigheid al dan nie van die ouers, speel 'n groot rol in 'n tiener se risiko om swanger te word.
-  Swangerskap is meer algemeen in skole met minder hulpbronne, asook in arm gemeenskappe.
- Slegs 3% van aborsies wat op tieners gedoen word, is wettig.
- 'n Derde van tienerma's gaan terug skool toe nadat hul baba gebore is.

Wat sê tieners?
Charissa Potgieter (15) van PE:
Na my mening lê die probleem by die tieners se opvoeding. Ons leer van seks by die skool, maar dis gewoonlik ‘n onderwerp waarvan die meeste onderwysers wegskram en wat die klas aflag. Van ons is gelukkig om van ons ouers te hoor wat reg en verkeerd is, en ander nie. Ek dink die beste oplossing is om te wag vir die huwelik voordat jy seks het, of om ten minste voorbehoedmiddels soos die Pil en kondome te gebruik. Maar onthou, dit is nie altyd doeltreffend nie!
Trisha Redelinghuys (16), gr. 10: Dit is te veel verantwoordelikheid vir tieners, alles net oor 'n oomblik van swakheid.


Bron: "Teenage Pregnancy in South Africa with a Specific Focus on School-Going Learners," Geesteswetenskaplike Navorsingsraad namens die departement van opvoeding, 2009.

Lees ook Tracy Engelbrecht se rubrieke op Parent24
.


Lees ook:
JIP loer onder die lakens
Tieners se seksuele gedrag ontbloot


 

Gebruikers Kommentaar (164)

  • Nicky
    16 days ago
    Ek het op 18 swanger geraak, is getroud met my eerste liefde en is nogsteeds. Ons is baie lief vir mekaar (na 20 jaar)en het 'n baie goeie lewe saam.... maar my liewe tienervolk.... dit was nie 'n joke nie, en as dit nie was vir my opvoeding en my geloof nie het ek hom vroeg-vroeg gelos. Hy het gejol en ek het baba grootgemaak,hy het gewerk en ek het baba grootgemaak. Maak asb nie 'n fout nie, my meisiekind is amazing, stelfstandig, volwasse en 'n droom van 'n girl, (hou daarvan om te dink ek het iets daarmee te doen) maar ek sou graag ook wou Universiteit toe gaan soos sy nou doen. Ek wou ook graag bietjie gaan jol het na skool, en net lawwe dinge doen saam met my pelle!!! Daarom, as ek dit kon oorhê? JA verseker! Ek kla nie, ek is ongelooflik lief vir my gesin, ons is finansieel, emosioneel en gelowig baie sterk, maar ek sou dit net graag later wou hê. So girls, dink bietjie voordat jy jouself gee, want dit kan veroorsaak dat jy jouself verloor in die proses.

  • 26 days ago
    Ek stem nie saam met n vroee swangerskap nie,maar nerens in die Woord staan dat n mens n ongeluk is nie. God het jou alreeds geken en geseen toe jy in jou moeder skoot geformeer was. Wie is ons om dan vinger te wys. Ek dink n mens as ouer kan net by jou kind staan en ondersteun deur die hele swangerskap. Moenie bekommerd wees wat mense dink nie, die mens in vuilbaar.

  • 1 month ago
    Dit is net teleurstellend dat die kind op 14 voel hy mag die besluit neem aangaande die toekoms van die baba, maar aan die uiteinde is dit die ouers wat moet hoes. Dink die tiener dan nie ook aan die gevolge wanneer sy besig is met die daad nie, of is dit net die ouers wat die verantwoordelikheid moet dra wanneer hulle die stukke later moet optel (en daarvoor moet betaal)?
  • stacy
    1 month ago
    Hey MIMI .Ek was 16 jaar oud toe ek swanger was en ek is ok nie spyt nie sy is die beste ding watn met my kon gebeur her en ek is baie gelukkig met my man .so mimitjie hoe jou koekie toe hoor . (Response edited by JIP)
  • Arizona
    1 month ago
    Ek het my man ontmoet toe is ek 14 jaar oud. My eerste kind gehad toe ek 17 is, ek is vandag 36 en het twee pragtige kinders en 'n wonderlike man en huwelik. Dit was my keuse om my eerste kind te hê op 17 en ek is nie 'n minuut spyt nie. Ek het vandag 'n baie goeie werk en het myself opgewerk. Ek was dalk 'n dom tiener om so vroeg ny eerste baba te hê maar ek is nou 'n suksesvolle beroeps vrou en my kinders is die beste ding wat ooit met my gebeur het. As ek my lewe moet oorhê sal ek alles weer dieselfde doen.

    Aan ander tieniers, op pas. Die lewe is nie altyd 'n lied nie en 'n baba is baie opoffering en geduld as jy nie kans sien vir dit nie, hardloop, hardloop baie vêr weg.
Bladsy 1 van 33
<< Vorige | Volgende >>
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar