Ek was nege toe die Springbokke die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 1995 gewen het. En dit is waar my rugbybewussyn ontstaan het en waarmee ek vandag my broodjie met 'n beskeie smeersels Rama bykom.
En waar daardie truitjie vandag is, weet nie, maar kort na afloop van die toernooi het my ma by De Jagers vir my 'n blou rugbytrui met een van daardie lap nommers en name agterop gekoop - 9 en JOOST.
Totdat ek in later jare Bob Skinstad en toe Elvis Presley ontdek het, was Joost my rolmodel. Hy was onaantasbaar, beter as George Gregan van Australië, en ondanks sy Blou Bloed die beste ding wat in die dae van my lewe met rugby gebeur het.
Ek was nog altyd iemand wat vanwee my liefde vir Afrikaans 'n paar broertjies aan die dood afgestaan het wanneer iemand my taal se voete onbewustelik onder hom uitgeskop het.
En toe Joost by die betaalkanaal begin kommentaar lewer het, moes ek myself keer op keer herinner dat hy nie goud op die Eisteddfod gevat het nie, maar op 'n Wêreldbeker-toernooi. Dit mag 'n mens nooit van hom vergeet nie.
Tog, soos die mens is, hoop jy jou helde het dieselfde waardes as jy. Want dit maak die selfgeskepte band met hom of haar minstens vir jou nog sterker.
Ofskoon my aanhang van ou Josie met die jare afgeneem het, geniet ek dit om so elke dan en wan 'n iris oor ESPN Classic te gooi om te herleef hoe woelig hy werklik was.
Baie jong outjies sal straks eendag so na Fourie du Preez kyk.
Maar terwyl Fourie nou nog (en hopelik vir altyd) 'n vleklose rugby-ikoon is, is aan Joost se saligheid op hierdie stadium min Prep te smeer - dankie seksvideo!
Tog was dit groot van hom om onlangs met die onderbroek op die enkels met die hele sak patats vorendag te kom.
Ook was dit van hierdie onlangse rugby-reus groot om te erken dat hy "windgat" was en homself as "die man wat alles kan doen en kry" beskou het.
En daarmee het ek en Joost toe iets in gemeen gehad - albei van ons het op 'n tyd gedink hy is onaantasbaar.
Maar terwyl 'n heldopswepery een ding is, is dit 'n heel ander storie wanneer iemand ook in sy eie oë heldestatus bereik.
En daarin lê waarskynlik die onheiligste van swakhede, 'n onvergenoegdheid met die lewe en die onderskatting van die kosbaarheid daarvan om mense te hê wat vir jou lief is.
In die professionele sportera is hierdie selfverering 'n siekte wat dreig om by enige ou of vrou toe te slaan, want soos dok Danie Craven gesê het, "dink hulle hulle is groter as die spel".
Maar terwyl die simptome hiervan nou eers by Joost deurslaan, is daar ander mense wat in die proses seergekry het.
Vir my as destydse aspirant Josie is die vraag daarom nie of ek die held van my kinderdae vir die teleurstelling kan vergewe wat hy veroorsaak het deur in 'n los vroutjie se bed 'n uiltjie en nog iets te knip nie. Maar of hy amnestie verdien vir die simptome wat sy siekte by sy vrou en ander mense na aan hom veroorsaak het.
In die 2003-Wêreldbeker-toernooi het Joost in die wedstryd teen Samoa 'n hospitaal-aangee na Derick Hougaard op losskakel geslinger waartydens die jong nommer-10 uit die poel geduik is. Vir 'n wyle het Joost hieroor gelag, maar eers nadat hy daaroor jammer gesê het, kon 'n mens hom die pyn wat hierdie Liefling gevoel het, vergewe.
Besoek hierdie skakels op nuus24 om meer oor Joost se onlangse openbarings te lees:
Amor se hart "uitgeruk"
VIDEO: Joost op Kwêla