Wees gewaarsku...

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

MAG PS3

Massive Action Game, kortliks MAG, is 'n eerstepersoon-skiettitel gemaak deur die mense wat die SOCOM-reeks maak, naamlik Zipper.

Enigiemand wat met die weermag-skiettitels vertroud is, behoort die SOCOM-titels te ken en behoort opgewonde te wees oor die uitreiking van MAG.

Maar vir julle wat nie weet nie: MAG is 'n multispeler-titel wat jy slegs aanlyn kan speel, wat nogal 'n probleem raak as jy in 'n land woon met van die duurste, stadigste internet ter wêreld.

Maar kom ons gesels eers nog 'n bietjie oor MAG.

As jy begin, gaan jy eers vir jou 'n karakter moet maak. Hier kies jy vir jou een van 'n paar gesigte wat almal amper dieselfde lyk. Dan gaan jy oor na een van die belangrikste keuses: om vir jou 'n PMC (Private Military Company) te kies.

Daar is drie om van te kies, en jy moet goed besluit, want as jy eers in is, is jy in, oftewel totdat jy jou karakter afvee en 'n nuwe een begin.

Die drie bestaan uit S.V.E.R, Raven Industries en Valor Company, elk met 'n eie fiktiewe agtergrondstories en elk met unieke toerusting. Daarna wys hulle jou net vinnig hoe al die knoppies werk, druk iets vir skiet, dat vir spring, gooi granate, ensovoorts, en dan kan jy maar begin speel.

Hiervoor kies jy die soort geveg waarvan jy graag wil deel wees, wag in die ry en begin skiet. Die rye vat darem nie te lank nie, aangesien daar baie mense op 'n slag speel. Sover ek kan agterkom, word die eerste twee PMC's wie se getalle vol is, teen mekaar geplaas. Dan doen jy jou bes om nie dood te gaan nie en speel totdat een van die twee PMC's wen. So kry jy punte en kan jy jou karakter beter maak en bywerk.

Daar is vier gevegte waaraan jy kan deelneem, maar die meeste van hulle is maar variasies op die capture the flag-tema.

Wat wel baie koel is, is dat een van die gevegte tot 256 spelers kan bevat, maar dit is meestal 'n gemors; en as jy nie bitter goed is nie, werk die 64 speler-opsies na my mening baie beter.

Wat MAG se grootste probleem is, is die feit dat ons in Suid-Afrika woon. Wat dit beteken, is dat selfs al het jy die vinnigste internetlyn in die land, is dit steeds baie stadiger as wat mense in Amerika en Europa besit. Daai fraksie wat jou internet stadiger as die ander mense is, maak net dat jy nog dink jy skiet iemand, dan is jy al dood.

MAG is rêrig nie 'n slegte titel nie, en ek glo dit kan baie lekker wees as jy van 'n grootskaalse oorlog hou. Moet dit egter nie eens probeer met stadige internet nie; jy gaan net jou geld en tyd mors.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar