Tieners veilig ná rotsstorting

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Henk Roukema

Die Kaapse tiener wat saam met die ontdekkingsreisiger Mike Horn die noordelike deel van Kanada verken, is ongedeerd ná 'n rotsstorting verlede week.

Henko Roukema (18) van Durbanville is saam met sewe ander jong mense in Nunavut in die noorde van Kanada op 'n ekspedisie om meer van die Inuïet-gemeenskap en die omgewing te leer.

Dit vorm deel van die Suid-Afrikaanse ontdekkingsreisiger Mike Horn se Young Explorers Program, wat tieners die kans gee om saam met Horn ongewone plekke te verken.

Die ekspedisie het op 15 Augustus begin en duur tot Sondag.

Die span was verlede week besig om 'n rotsmuur op Baffin-eiland in Nunavut, wat in die Noordpoolsirkel is, uit te klim toe 'n rotsstorting plaasgevind het. Niemand is beseer nie.
"Ons het 'n geraas soos 'n donderstorm gehoor soos rotse geval het," het Henko op sy blog geskryf.
"Mike het geskree dat ons almal aan die krans moet vasklou om die rotse te vermy.
" 'n Groot rots het omtrent 5 m van ons verbygekom met 'n harde shooossshh-geluid. As een van die groot rotse jou teen daardie spoed tref, sal jy nie meer leef nie."

Me. Mary Buckheit, mediabeampte by Horn se kantoor in Switserland, het gesê niemand is beseer nie.
"Die groep het 'n rotsstorting ervaar, maar hulle was heeltyd veilig, want daar is heelparty deskundiges op die toneel. Hulle is deur Horn, drie ervare gidse en 'n mediese dokter begelei. "Dit vorm deel van 'n besonderse ervaring wat hy en die ander studente altyd sal onthou."

Henko se ma, me. Maritha Roukema, het gesê sy was onbewus van die voorval omdat die groep min kontak met die buitewêreld het nie.
Henko skryf wel gereeld vir die YEP-blog.

Roukema het gesê die wete dat Henko sy droom en passie uitleef om plekke saam met Horn te ontdek, gee haar die gemoedsrus dat hy heeltemal in sy element is.

"Sy ervaring as menseredder en ysswemmer het hom al aan baie uitdagende ervarings blootgestel en hy is koelkop genoeg om enige onvoorsiene gebeure te kan hanteer," het sy gesê.
"Die span word deur van die beste gidse ter wêreld vergesel. Ons het volle vertroue in Horn se leiding en hoop dat Henko se avontuur ander tieners sal aanmoedig om ook aansoek te doen om op die ekspedisie te gaan."

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar