Foxtrot van die Muesli Eters het Vrydagaand net soveel aandag met hul musiek as met hul naam getrek.
Van hulle was senuweeagtig, ander opgewonde. Maar toe hul voete die verhoog raak, het die Kaapse Rockspaaider-deelnemers die verhoog by die Hoër Meisieskool La Rochelle laat vlam vat. Rozanne Els vertel.
Eerste aan die beurt was Pre-Motief. Hul naam kom van 'n DStv-afstandbeheerder en die band-lede hoop dat Rockspaaider hul musiek 'n boost sal gee.
Haatspraak het nie geweet wat om hulself te noem nie, maar toe hulle in die klas 'n storie lees oor die ANC-jeugleier, Julius Malema, het hulle op dié naam besluit.
The Sellouts se groot droom is om in Amerika celebs te word met hul "garage rock''-musiekstyl.
Maantuig Vir Twee het net een Afrikaanse lid, maar volgens hulle maak dit nie saak nie, omdat musiek dieselfde in enige taal is. Hulle beskryf hul klank as "jivey" en minder ernstig.
Foxtrot Van Die Muesli Eters het hul naam gekry van 'n opskrif in die By en glo hul klank is iets wat nog nooit in Afrikaanse musiek gehoor is nie. Hulle hoop om, soos hul naam, anders te wees.
Geheime Skaduwee se liriekskrywer wil die beste Afrikaanse liedjie van alle tye skryf en sy band-maats beskryf hom as die volgende Hunter Kennedy.