Geheime Skaduwee in aksie.
Die Wes-Kaapse uitdun van JIP se Rockspaaider-kompetisie by die Hoër Meisieskool La Rochelle was 'n mengsel van harde rock, garage punk, lekker-luister Afrikaanse poprock en senuwees. Rozanne Els het gesels met die ses bands wat deelgeneem het.
Haatpraak
Haatspraak is van die Hoërskool Durbanville en beskryf hul musiek as 'n mengsel tussen Afrikaanse alternatiewe- en punkrock...of bloot "musiek wat jou brein gaan breek".
Hulle het besluit om hulself Haatspraak te noem nadat hulle 'n berig oor Julius Malema (die ANC-jeugleier) in die klas gelees het. "Ons musiekonderwyser haat ons naam, maar dit trek baie aandag en ons lirieke gaan teen haatspraak," sê hulle.
Hulle het vir Rockspaaider ingeskryf want dit is "die maklikste manier om die land gelyk te laat ontplof". En volgens hulle is hul kans om te wen baie goed. "Ons werk baie, baie hard." Uit al die ander bands wat teen hulle by die uitdun meegeding het, dink hulle Pre-Motief is hul grootste kompetisie.
Almal in die band is beste vriende en maak dit die ervaring net meer cool. "Om musiek te deel met mense met wie jy al 'n lang pad saamgestap het maak die vriendskap net groter. Die musiek is ook meer persoonlik en emosioneel, want ons almal weet wat die ander bedoel as hulle iets sing of speel," sê hulle.
Dit is vir hulle lekker om musiek in Afrikaans te maak, omdat Afrikaans hul moedertaal is. "Dit is wie ons is." En natuurlik kan hulle ook nie eintlik goed Engels praat nie, lag hulle.
Jy kan hulle ook uitcheck op Facebook by http://www.facebook.com/Haatspraak.
Wie is Haatspraak?
Kristi Boonzaaier (lead vocals)
Gehan Erlank (lead kitaar)
Johan Steffens (rhythm kitaar)
André van der Merwe (baskitaar)
Luke Baird (tromme)
The Sellouts
The Sellouts beskryf hulself as “vyf ouens van Durbanville wat toevallig saam opgeëindig het in Paul Roos Gimnasium”.
Hul naam is veronderstel om ironies te wees, want hulle hou eintlik regtig nie van mense of bands wat hul siele verkoop nie.
Hulle het besluit om aan Rockspaaider deel te neem omdat dit goeie ervaring is en ’n “lekker gig”.
Vir hulle is musiek “awesome” en ’n lekker stokperdjie om saam met vriende te beoefen. Hulle is almal beste vriende en is veral groot fans van Jack White, The Hives en Kurt Cobain. Plaaslik hou hulle baie van Fokofpolisiekar, Springbok Nude Girl en The Stellas. Hulle beskryf hul musiek as “garage rock revival” en het voor Rockspaaider nog net een keer voor mense opgetree. Dit het egter nie later gelyk of die senuwees baie gepla het nie, want op die verhoog het hulle behoorlik vlamgevat.
Hul grootste droom as ’n band is om in Amerika groot te wees, omdat daar meer mense daar is wat van hul musiekstyl hou.
Wie is die Sellouts?
Henry van Zyl (rhythm kitaar en backup vocals)
Jacques Olivier (lead vocals)
Marco Venter (baskitaar)
Haiko Meyer (lead kitaar)
Hein Stegmann (tromme)
Geheime Skaduwee
Geheime Skaduwee is ’n groep pêlle met net een doel voor oë: Om lekker musiek te maak.
Al die ouens in die band is van die Boland Landbou Hoërskool en die enigste meisie in die groep is van die Hoër Meisieskool La Rochelle.
Vir hulle is Rockspaaider ’n geleentheid om bekend te word en ’n fanbase op te bou, maar ook om ervaring te kry.
Hulle is groot fans van verlede jaar se Rockspaaider-wenner Zondernaam en is ook mal oor Fokofpolisiekar. Onder hul ander gunstelinge tel Bullet for my Valentine, Children of Odom, Simple Plan, Sum41 en Red Jumpsuit Apparatus. Hulle meen hul musiek kan vergelyk word met ’n vorige Rockspaaider-wenner, Ef-El.
Hulle almal is goeie vriende en hulle meen die enkele hen tussen die hane het ’n goeie invloed op hulle. “Ons rowwe seunskant het nou ’n meisie se touch,” sê hulle. “Sy bring ons goeie kant uit.”
Vir Geheime Skaduwee is musiek hul lewe en is dit verslawend. “Dit voer jou weg en kan ook ’n motivering wees.”
Hul naam kom van een van hul liedjies en hulle het later besef dit kan ’n lekker naam vir ’n band wees. Besoek hul Facebook-blad by
http://www.facebook.com/pages/Geheime-Skaduwee/111502978919799.
Geheime Skaduwee is:
Alex Booysen (vocals)
Vincent Sparks (lead kitaar)
PW Eksteen (rhythm kitaar)
Claudette Blom (tromme)
Jaco Mouton (baskitaar)
Pre-Motief
Pre-Motief is ’n Afrikaanse band van Bellville met drie lede van die Hoërskool DF Malan en een uit die Hoërskool Tygerberg. Hul naam kom snaaks genoeg van ’n DStv-afstandbeheerder...
Hulle het aan Rockspaaider deelgeneem, want hulle glo dit sal hul musiek die boost gee wat hulle nodig het om dit by meer mense uit te kry. Hulle geniet dit ook om musiek te maak en is dankbaar vir hul musiektalent.
Vir hulle is musiek soos die lewe en hulle is dit eens dat hulle nie daarsonder sal kan oorleef nie.
“Als in die lewe werk met ritme en musiek het ritme,” sê hulle. Volgens hulle kan musiek ook ’n verskil maak in mense se lewe.
Hulle skryf oor wat tieners ervaar en sê hul liedjies is meer soos stories wat meeste van die tyd ’n gelukkige einde het.
Hulle is groot fans van Straatligkinders, Winterstasie en Fokofpolisiekar en beskryf hul eie musiek as ’n “soppot” van progressiewe rock, metal en pop.
Enigiemand sal enige tyd na hul musiek kan luister omdat daar iets is wat in almal se smaak sal val. “Ons probeer soveel mense as moontlik raak.”
Pre-Motief is:
André Lourens (lead kitaar)
Ruan Jordaan (tromme)
Marcel Genis (rhythm kitaar en vocals)
Gerber Botha (baskitaar en backing vocals)
Foxtrot van die Muesli-Eters
Foxtrot van die Muesli-Eters is drie pelle van die Hoërskool Bellville en Stellenberg wat musiek maak vir hulself en niemand anders nie. Hul baie unieke naam kom van ’n opskrif in die By en net soos hul musiek is die naam anders en alternatief, meen hulle.
Hulle beskryf hul musiek as alternatief en ’n nuwe kklank wat nog nie in Afrikaanse musiek gehoor is nie.
Vir hulle gaan Rockspaaider nie oor die prysgeld nie, maar eerder om ’n voet in die deur te kry en blootstelling in die musiekbedryf te kry. “Dit gaan oor doen wat ons liefhet,” sê hulle.
“Musiek is ons passie,” voeg hulle by.
Rockspaaider is dié band se eerste optrede saam. Hul tromspeler was kort voor hul optrede in ’n motorfietsongeluk en hy het met ’n erg-beseerde voet musiek gemaak.
Plaaslik is hulle fans van Pretty Blue Guns, Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel. Internasionaal hou hulle baie van ACDC en Jack White.
Wie is Foxtrot van die Muesli-Eters?
Michael Badenhorst (vocals en baskitaar)
Gerhard Dempers (tromme)
Philip Theron (kitaar)
Check hulle uit op Facebook by http://www.facebook.com/pages/Foxtrot-van-die-Muesli-Eters/175930235798162.
Maantuig vir Twee
Maantuig vir Twee bestaan uit ’n klomp ouens ut die Hoërskool Parel Vallei wat die band oorspronklik gevorm het om aan hul interhuis bandkompetisie deel te neem. Later het hulle egter besluit om meer musiek te maak en ook vir Rockspaaider in te skryf.
Hoewel hulle net een Afrikaanse lid het, is dit volgens hulle glad nie ’n probleem nie, omdat musiek dieselfde in enige taal is.
Hulle het besluit om aan Rockspaaider deel te neem omdat dit die grootste geleentheid in die land is.
Hul musiek beskryf hul as “jivey” en minder ernstig.
Hul naam het hul gekies om die band te definieer. Volgens hulle is daar geen bybedoelings met hul musiek soos om eendag ryk of beroemd te word nie. “Buitendien, waarheen sou jy jou meisie op ’n date wil neem? Maan toe, in ’n ruimtetuig net groot genoeg vir julle twee!”
Hulle is veral mal oor die musiek van Die Heuwels Fantasties, Foto Na Dans, aKING, Maroon5 en Yellowcard.
Musiek is vir hulle hul lewe. “Ons almal geniet dit. Dit gaan oor fun hê, nie om ernstig te wees nie.”
Wie is Maantuig vir Twee?
Charl Cillié (vocals, kitaar en klawerbord)
Evan van Schoor (baskitaar en elektriese kitaar)
Ipeleng Tau (baskitaar en elektriese kitaar)
Oliver Harrison (tromme)
Nicholas Hosking (saksofoon en harmonica)