Nicolas Cage is die towenaar en Jay Baruchel is sy lomp jong assistent in die fliek The Sorcerer’s Apprentice.
The Sorcerer's Apprentice
Fantasie
Met: Nicolas Cage, Alfred Molina.
Regie: John Turteltaub
Donker, bose magte smelt saam om die wêreld oor te neem. Net een mens kan die mensdom red.
Dié gesalfde is bra onwillig vir dié mantel (is hulle nie almal nie?). Boonop is dit Merlin die oer-towenaar se mag wat so deur die eeue aangegee word.
Die ou gryse se antieke towerkuns is die enigste verweer teen die boosheid wat wag op die moderne mens. Al dié onheil is vasgevang in 'n fles wat soos 'n stel skilpoppe die verlede se beoefenaars van donker towerkuns gevange hou.
Onse redding is die leerjonge, bleekjan Dave. Hy is ene knieë en sit heeldag met sy neus in 'n boek of bedink eksperimente wat sy wenkbroue wegskroei en die katte laat miaau. Die towenaar Balthazar Blake (Cage) soek al eeue na Dave en hy het net 'n rapsie tyd om van hom 'n towenaar te maak. Dan is sy aartsvyand, Maxim (Molina), ook op soek na die gevaarlike fles.
Verwag Towerkuns vir Dommies, rook, borrels en sommer baie vlamme. Dit speel af in Manhattan, New York - die perfekte agtergrond vir toorkuns: bekende standbeelde word lewend en bestorm Dave en Balthazar, die Empire State Building se arende word vliegmasjiene en, les bes, 'n tatoeëermerk van 'n reptiel kry die lewenskus en kruip teen 'n wolkekrabber uit ... Die verstommende spesiale effekte volg mekaar vinnig op. Jou mond bly koeëlrond gestol in 'n "oeeee". Daar is bra min storie en die uiteinde is so voorspelbaar soos spek en eiers vir brekvis.Tog is daar goeie spel van veral die leerjonge, vertolk deur Jay Baruchel, en Cage se Balthazar is skaflik.
Hy het die droomverlorenheid van sy Moonstruck-karakter gekombineer met daardie gatskop-houding van hom. Daar is darem ook tyd vir romanse. Balthazar se ou geliefde (van 'n millenium terug) verskyn op die toneel en jong Dave skep simfonieë uit ligvibrasies vir 'n blondekop.
Ouderdomsperk: 10G. Tydsduur: 110 minute