Nee, dit is eintlik fliek wat suig

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Die parodie Vampires Suck spot met die Twilight-prente – gaan kyk daarna op eie risiko.

Vampires Suck
Komedie


Met: Jenn Proske, Matt Lanter.
Regie: Jason Friedberg en Aaron Seltzer.


'N Fliek tot oorlopens toe  vol van tienerromanse,  angs en trauma waarmee liederlik die draak gesteek word, sou in die regte hande nog kon werk, maar sneuwel in dié van Friedberg en Seltzer.

Hulle is die ouens wat ook Date Movie (2006), Epic Movie (2007), Meet the Spartans en Disaster Movie (albei 2008) op ons losgelaat het.
Hulle neem dus die voorbeelde van franchise-flieks en maak smaaklose roereiers daarvan.

Vampires Suck vat die Twilight-reeks aan en diegene wat dit geloof en geprys het, sal die Friedberg/Seltzer-benadering as uiterste heiligskennis ervaar. Dit ís ook so, want dié onskeibare Siamese twee­ling, wat vir mekaar se "vindingrykheid" bly lag, bied dié verhale met die donkerste denkbare sinisme aan, gevul met absurditeit, belaglikheid en veral 'n weersinwekkende graad seksisme.

'n Mens kan nog die spot met popkultuur verteer, asook die verwysings na mense soos Tiger Woods en Lindsay Lohan, of die enkele een na Tim Burton se Alice in Wonderland.

Jenn Proske se Becca is minstens in beheer van die situasie waarin twee uiteenlopende kêrels belangstelling in haar toon, al laat net een haar hormone vrolike deuntjies sing. Maar iewers in die nabye toekoms is 'n groot skooldans in sig en niks mag op daardie lewensveranderende nag skeefloop nie.

Teen slegs 'n draaityd van 82 minute voel dit steeds of die vervaardigers tyd wou wen - 28 minute sou heeltemal voldoende wees.
'n Mens kan dink dat aanhangers van die Twilight-reeks Vampires Suck gaan haat. Eersgenoemde was tereg soms dromerig en onsubstansieel, maar laasgenoemde se vulgariteit - veral teenoor sekere liggaamsfunksies en dies meer - oorskry alle perke.

Ouderdomsperk: 13TG. Tydsduur: 82 min.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar