Meryl Streep slaan asem weg in "The Iron Lady"

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Meryl Streep lewer ’n Oscar-benoemde vertolking as Margaret Thatcher in die biofliek The Iron Lady.

The Iron Lady
Drama


Met Meryl Streep, Jim Broadbent, Richard E. Grant en ander.
Regie: Phyllida Lloyd

Daar is sekerlik nie nog 'n aktrise wat kon bereik het wat die gevierde Meryl Streep hier uitrig in die rol van Margaret Thatcher nie.


Sy slaan jou asem weg. Minute nadat die prent begin het, vergeet jy dit is 'n aktrise wat 'n rol speel.

Al wat jy sien, is Thatcher: Thatcher met die hoë stem wat deur haar die opposisielede in die parlement verskree word. Thatcher met haar nou afgeronde voorkoms, aan't veld wen in (en vir) die Konserwatiewe Party. En uiteindelik, Thatcher die ystervrou, onwrikbaar in haar beginsels en ideologie.

Die regisseur Phyllida Lloyd begin die verhaal in die hede met die afgetrede Thatcher in die beginstadium van Alzheimersiekte en bied die kyker terugflitse deur haar lewe. Die verloop is dus nie chronologies deur haar opkoms as politikus nie, ons sien eerder betekenisvolle gebeure in haar politieke en private lewe.

Dit word gou duidelik hoe sy dit reggekry het om nie net die eerste vroulike eerste minister in Brittanje te word nie, maar ook hoe sy so lank in daardie amp kon bly: kompromie was eenvoudig nie deel van haar woordeskat nie.
Uiteindelik was dit ook die oorsaak van haar ondergang. 'n Goeie leier moet ook weet wanneer om te buig en ander uitgangspunte te oorweeg.

Die prys van ambisie is dikwels een wat jou geliefdes moet betaal. Thatcher word nie uitgebeeld as selfsugtig of ongevoelig teenoor haar man en kinders nie, maar dis merkbaar dat haar fokus eerstens op haar werk geval het.
Dit is veral haar blymoedige man, Denis (Jim Broadbent, in 'n lieflike vertolking), wat swaar moes dra aan dié ingesteldheid.

Nietemin kan 'n mens baie by Thatcher - of die karakter wat hier uitgebeeld word - leer. Op haar oudag lewer sy skreiende kommentaar oor die celebrity-mal gees van ons tyd: "Deesdae wil almal iets wéés. In my tyd het dit daaroor gegaan om iets te dóén."

Phyllida Lloyd, veral bekend om Mamma Mia!, is miskien 'n vreemde keuse vir dié biofliek, en sy handhaaf inderdaad 'n ligte hand oor baie swaar gebeure.


Die prent is geneig tot eensydigheid en nostalgie, en daar sal baie wees wat voel daar word net rakelings aandag gegee aan 'n baie onstuimige tydperk in Brittanje se geskiedenis.

Maar in haar keuse van hoofrolspeler wen Lloyd reeds die helfte van die stryd. Ondanks sy foute is The Iron Lady 'n boeiende portret oor 'n merkwaardige vrou.

Sy het seker haar foute gehad, maar sy het groot dinge bereik, sy het die moed van haar oortuiging gehad - en dis meer as wat van 'n groot klomp Britse politici van die laaste paar dekades gesê kan word.

Ouderdomsperk: 10VG.
Tydsduur: 105 minute.
Soortgelyke prent: The Queen


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar