Me. Bea Pretorius en Emma van Heerden teken met swartgeverfde gesigte beswaar aan.
Studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) en 'n afvaardiging van AfriForum Jeug het hulle gister voor die departement van hoër onderwys en opleiding swart geverf uit protes teen die rasseteikens wat die departement vir die UP se fakulteit veeartsenykunde stel.
Mnr. Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het gesê die organisasie verteenwoordig tans sowat 30 matrikulante en voornemende studente wat saam 190 onderskeidings behaal het, maar by die UP weggewys is weens "swak akademiese prestasie".
Oberholzer het gesê die protes is teen die toelatingsvereistes vir veeartsenykunde. Die UP het die enigste fakulteit in die land en die onderwysdepartement moet toesien dat toppresteerders 'n kans gegee word om die tekort aan veeartse te help verlig.
Volgens Oberholzer word selfs plekke vir internasionale studente gereserveer, maar wit Suid-Afrikaners wat tussen sewe en nege A's behaal het, weggewys.
Oberholzer het gesê nadat AfriForum die universiteit ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gedwing het om sekere inligting bekend te maak, het die UP aangedui dat die departement rasseteikens vir veeartsenykunde stel en die UP op grond daarvan finansiering kry.
AfriForum het talle oplossings voorgestel, soos dat rasseklassifikasie gestaak word sodat almal eenders behandel word; meer studente in die
mededingendse "oop kategorie" toegelaat word; en meer toelatings oorweeg word vir studente wat al vir 'n B.Sc-rigting ingeskryf is.
Oberholzer het gesê mense wat in 1993 gebore is, kan nie onder rasgedrewe beleide gebuk gaan nie.
Volgens AfriForum Jeug word 140 studente jaarliks tot die fakulteit veeartsenykunde toegelaat en is net 22 wit matrikulante van 2011 toegelaat.
Vanjaar was die mededinging buitengewoon straf omdat twee groepe skoolverlaters (van 2010 en 2011) oorweeg moes word omdat die veeartsenykunde-program van 'n sewejaar- in 'n sesjaar-program verander is, het die UP gesê.