Leerders van die Hoërskool Stellenberg, die verdedigende kampioen van die sangbeker, oefen hul liedjies.
Daar is atlete net waar jy kyk en die vrolike klanke van singende ondersteuners beteken net een ding - MTBS-koors is weer in die lug.
Dié jaarlikse sportbyeenkoms tussen die hoërskole D.F. Malan, Tygerberg, Bellville en Stellenberg vind môre in die Bellville-stadion plaas.
Singende ondersteuners op die paviljoene - en atlete wat deelneem - het sedert Dinsdag nie meer klas nie om voor te berei vir dié titaniese stryd, het me. Hanlie van Staaden van Stellenberg gesê.
"Ons het twee nuwe liedjies vanjaar en nuwe flashes (prentjies wat met baadjies uitgebeeld word).
"Maar julle sal vir die groot verrassings moet wag."
Christiaan Bellingan, 'n gr.8- leerder van dié skool, het gesê Stellenberg gaan beslis vanjaar wen en dit sal hul vierde agtereenvolgende oorwinning wees.
"Dis moeilik om die liedjies te leer, maar wanneer jy hom het, dan het jy dit," het hy entoesiasties vertel.
Mnr. Pierre Nelson van die Hoërskool Bellville het gesê dié skool is vanjaar 75 jaar oud.
"Dit is 'n groot verjaardag. En 'n wen by die MTBS sal die perfekte geskenk aan die skool wees."
"Die kinders is oorgehaal en dit lyk of vanjaar ons jaar gaan wees."
Leerders van die Hoërskool Bellville het twee uur per dag aan hul sang geoefen, teenoor D.F. Malan se oggend- en middagsangsessies van drie uur.
Me. Joh Dorfling, hoof van D.F. Malan, het gesê die leerders van gr.8 tot matriek is reg om "uit hul velle te spring" van opgewondenheid.
Stellenberg oefen sedert Dinsdag die grootste deel van die dag.
Die Tiere van Tygerberg het selfs 'n MTBS-periode gehad.
Mnr. Fanie de Goede, van die gasheerskool, wou nie hul tema verklap nie.
"Al wat ek sê, is ons gaan Vrydag op safari."
Hekke by die stadion maak om 05:00 oop.
Kaartjies kos R10 per persoon.
Kyk op die video hoe die Stellies voorberei: