Die mark word nou weer oorspoel met soveel nuwe titels dat jy skaars tyd kry om water te trap. Wat ek bedoel, is: Daar is só baie nuwe titels uit dat 'n mens nie weet waar om te begin nie.
Jy moet nou óf jouself vir 'n maand in 'n donker kamer toesluit óf net een of twee van die titels kies en hulle speel en die ander vergeet.
Die tweede een is verreweg die moeiliker opsie van die twee. Net om dit te bewys, is hier vinnig 'n paar titels wat die laaste tyd uitgekom het. Hopelik sien julle 'n paar daarvan hier op die JIP-blaaie.
Mass Effect 2 (Xbox360, PC)
Die vervolg van een van die beste Xbox-titels tot nog toe speel weer as Commander Shephard. Verwag dat dit minstens 30 uur van jou lewe gaan steel.
Dante's Inferno (PS3, Xbox360, PSP)
Dit is gegrond op Dante se epiese gedig Die Goddelike Komedie. Dante probeer sy geliefde se siel red en kom in botsing met sy verlede, sondes en familie.
Heavy Rain (PS3)
Dit belowe om 'n titel te wees soos geen ander wat jy al gespeel het nie. Neem die leisels in as vier karakters op soek na 'n reeksmoordenaar genaamd die "Origami Killer".
Bayonetta (PS3, Xbox360)
As jy in ag neem dat Bayonetta gemaak word deur die ou wat met die Devil May Cry-reeks vorendag gekom het, sal jy dadelik weet watter soort speletjie dit is, maar jy sal steeds nie voorbereid wees op wat Bayonetta is nie. Dis 'n mal speletjie!
Bioshock 2 (PS3, Xbox360, PC)
Keer terug na Rapture, die stad onder die see, agt jaar ná die eerste titel, maar dié keer speel jy as een van die Big Daddies (onthou jy hulle?) op soek na sy Little Sister. Die eerste titel was speletjie van die jaar in baie mense se boekies. Ek hoop dié een sal net so goed wees.
'n Paar titels wat in die nabye toekoms kom, is: God of War 3, Final Fantasy XIII, Alan Wake en Halo: Reach.