Kaapstad is die derde ster in "Safe House"

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Denzel Washington (links) en Ryan Reynolds se karakters toets mekaar in die aksiefliek Safe House.

Safe House
Aksie


Met: Denzel Washington, Ryan Reynolds en ander


Regie: Daniel Espinosa


Hierdie prent het wat plaaslike kykers betref drie groot sterre in die rolverdeling: Denzel Wash­ing­ton, Ryan Reynolds - en Kaapstad.

'n Jong CIA-agent moet 'n berugte operateur in 'n Kaapse basis oppas. Wanneer daar 'n aanval kom, vlug hulle saam - hulle is vyande, maar moet mekaar op sekere gebiede ondersteun. En wie is die éintlike vyand?

Die grootste probleem is die aandagafleibare redigeerder wat dit nie kon duld as 'n skoot langer as vyf sekondes duur nie. Voeg daarby die kameraman wat vir energiek gemik en freneties getref het, en jy voel of jy 'n rolprent kyk aan boord van 'n baie rukkerige vliegtuig.

Daar is ook 'n paar koddig­hede, soos wanneer 'n CIA-lid sê sy het 'n span mense in Johannesburg wat oor twee uur in Kaapstad kan wees. Regtig? Bloot die vlug duur al so lank.

Kenners van die Moederstad kan ook lekker vind-die-blaps speel wanneer daar ná 'n driekwartier 'n jaagtog is in gebiede wat hoegenaamd nie in daardie volgorde deurkruis kan word nie.

Die komiese hoogtepunt is die Reynolds-karakter se kostelike aksent wanneer hy met polisiemanne Afrikaans probeer praat. Hoekom hy dít doen, is die prent se grootste raaisel.

Gelukkig verskyn daar by hierdie gedeeltes onderskrifte, want Afrikaanssprekendes sal dit net so nodig soos enigiemand anders hê om te weet wat die karakter daar kwytraak.

Dit is ook een van daai flieks waar die skurke jou mooi behulpsaam is deur absoluut soos rolprentskurke te lyk en op te tree.
En die laaste halfuur is so 'n oefening in voorspelbaarheid dat as jy dink dit of dat kan dalk volgende gebeur . . . jy amper beslis reg is.

Maar ag wat, die skeppers het sekerlik nie vir Oscar-eer gemik nie, en jy het tog al veel erger gesien.
Dis bloot 'n aksieprent, beslis niks meer nie en by tye ook niks minder nie.

Ouderdomsperk: 16G.
Tydsduur: 114 minute.
Soortgelyke rolprent: Training Day.


 


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar