Hoofseuns wys hulle kan die kitaar slaan

  • 3
    like dit
  • 2
    like dit nie
Foto: Sean Brand

Twee hoofseuns van Alberton het bewys hulle kan tromme en kitare slaan toe die rockgroep waarvan hulle deel is, eergisteraand as nasionale wenners uit die stryd getree het in Jip en MK se Rockspaaider-kompetisie vir skoolgroepe.


Arno van Wyk en Stefan Oosthuisen, onderskeidelik hoofseuns van Marais Viljoen Hoërskool en Hoërskool Dinamika in Alberton, is lede van die groep Countdown to the red carpet.

Die ander lede is Danica Bezuidenhout, voorsanger, Nico du Plessis, baskitaarspeler, en Réno Crouse, kitaarspeler.

Rockspaaider was vanjaar ook 'n vyf maande lange werklikheidsreeks op MK.
Die kompetisie soek jaarliks na nuwe Afrikaanse rocktalent onder hoërskoolleerlinge.

"O, my gosh," het Bezuidenhout aan Beeld gesê nadat die wenners bekend gemaak is.
"Ek het net heeltyd gedink: ‘Moenie huil nie, moenie huil nie'," sê sy oor hoe sy gevoel het toe Jacques van Straten, die aanbieder, hul groep se naam uitgelees het.

Bezuidenhout sê dit is hoogtyd dat daar weer 'n vroue-hoofsanger in 'n groep is.
"Dit is tyd dat meisies weer wys hoe die ding gedoen word."

Vir die duur van die reeks het die beoordelaarspaneel - Bouwer Bosch van die groep Straatligkinders, Elma Smit, MK-aanbieder, Marzahn Botha, Beeld- JIP-redakteur, Kenzy Vinco, 'n omroeper van die radiostasie Ofm en Fritz Bücker van die groep éF-éL - groepe van oor die land heen gesif.

Vandeesweek kon kykers stem of hulle wil hê Countdown to the red carpet of Alleen na Desember, die ander groep in die eindronde, moet wen.

Die lede van Alleen na Desember is Simeon Kriel, voorsanger, Francois de Klerk, hoofkitaarspeler, Ben Greyling, tromspeler, en Werner Grunder, ritmekitaarspeler.

Altesame 20 000 mense het gestem, het mnr. Haddad Viljoen, bemarkings- en publisiteitsbestuurder van kykNET en MK, gesê. Hy het gesê daar was 'n "fenomenale vordering" in die kompetisie.

Dit was vir hom goed dat daar vanjaar meer tyd was om met die groepe te werk.
"Ons het gehalte musiek hier uitgekry."

Gebruikers Kommentaar (1)


  • 7 months ago
    Orals is daar sukkelende Rock-bands wat strewe na sukses en eintlik daar uitkom sonder om die publiek se aandag te trek of om aan te gaan as of hulle die eerste mense is om iets te wen.Wat maak dit van julle?'n Duikboot met sifdeure?Dis okay as jy wen en eintlik na iets klink,maar in hierdie geval is dit net plein walglik.Asseblief,ontwerp 'n 'cure' vir AIDS of kanker,dan sal ware toejuigings gegee word.
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar