Shailene Woodley en George Clooney as pa en dogter in ’n toneel uit die bekroonde drama The Descendants.
The Descendants
Drama
Met George Clooney, Shailene Woodley, Beau Bridges, Robert Forster, Judy Greer
Regie: Alexander Payne
‘My vriende dink net omdat ek in Hawaii bly, woon ek in die paradys. Is hulle van hul sinne beroof?"
Die verteller is Matt King (George Clooney, in 'n vertolking wat reeds aan hom 'n Golden Globe besorg het, asook 'n Oscar-benoeming) en sy lewe is inderwaarheid geen piekniek by die see nie.
Wanneer Matt nie langs sy vrou se hospitaalbed (in 'n koma ná 'n motorski-ongeluk) waghou nie, probeer hy na sy twee dogters omsien. Die oudste, Alexandra (Shailene Woodley), is in die rebelse fase van haar tienerjare. Jong Scottie (Amara Miller) begryp nie juis wat aangaan nie en vloek soos 'n matroos.
Dié rolprent deur die bekroonde Alexander Payne sou kon afstuur op 'n redelik middelmatige drama as dit nie was vir die feit dat Matt uitvind sy vrou was ontrou nie. Dit verander die prentjie ingrypend en die storie verkry 'n onverwagse streep komiese absurditeit.
Intussen is daar nog 'n vraagstuk wat Matt wakker hou. Die King-familie is trustees van 'n groot stuk pragtige grond, wat nou teen 'n yslike bedrag verkoop kan word. Matt is die hooftrustee en het die finale sê, maar heimlik twyfel hy.
Sy voorvaders was in wese kolonialiste; hulle het niks gedoen om die grond te verdien nie.
Sy familielede het intussen hul rykdom verkwis en oefen nou sterk druk op hom uit om die transaksie te beklink - maar behoort die grond nie eerder aan die Hawaise bevolking nie?
Dis genoeg kwessies om enige karakter baie besig te hou en Clooney slaag dié toets met vlieënde vaandels. Bekend om sy sjarme en afgeronde, aantreklike voorkoms laat die akteur hom die eerste keer toe om ouer te lyk; onseker in sy optrede en onvas op sy voete.
Dus, soveel mensliker.
Sy vertolking roer die kyker op meer as een vlak: Jy sien 'n man wat probeer om sy waardigheid te behou; wat daarna strewe om die regte besluite vir sy dogters en vir die ander "erfgename" te neem.
Maar dan is hy ook 'n man wat voor die versoeking swig om sy vrou se minnaar op te spoor en te konfronteer. Want iewers moet hy hom ontboesem, moet hy die nodige afsluiting vind.
Dié deel van die verhaal leen hom tot heelwat humor, versterk deur die komiese teenwoordigheid van Alexandra se hippie-vriend Sid (Nick Krause), wat mettertyd 'n vergestalting word van die gesegde dat jy iemand nie op sy baadjie takseer nie.
Tussendeur bly dit 'n aangrypende vertelling van 'n gesin wat hom moet herskep nadat die ergste gebeur het, 'n gesin wat 'n nuwe manier van saamwees moet vind. Hierdie verloop word met sensitiwiteit en sonder 'n soetsappige of gedwonge slot gehanteer.
The Descendants is besonders; met 'n merkwaardige vertolking deur Clooney. Hy is ten volle Matt, 'n man wat van sy vrou afskeid moet neem en oortuig in die warboel emosies wat dit bring: woede, maar ook liefde, weerloosheid én vasberadenheid; verlange na beter tye en hoop vir die toekoms.
Ouderdomsperk: 13T. Tydsduur: 115 minute.
Soortgelyke prent: Junebug.