Mari Labuschagne van Mars Riot is groot vriende met die mikrofoon. Foto: LERATO MADUNA
"Hoekom moet óns wen? Want ons droom is om musiek te maak!"
Dié woorde van J.C. le Roux, tromspeler en agtergrondsanger van die groep Anderkant die Maan van Vereeniging, eggo die gevoelens van die top-3 hoërskoolmusiekgroepe wat sake vandag in die tiende JIP Rockspaaider-eindronde gaan uitspook.
Die ander twee kraakvars groepe wat die kitare vandag gaan slaan en stemme gaan dik maak om die Rockspaaider-kroon te verower is Sonder Spore en Mars Riot.
Dié twee groepe is albei van Johannesburg.
Beoordelaars het die top-8 groepe vroeër ná landwye uitdunne aangewys, waarna aanhangers vir hul gunstelinge kon stem. Die top-8 moes ook 'n tuisdorp-optrede reël en sonder enige begroting 'n video daarvan maak.
Die top-3 is toe aangewys na aanleiding van die leserstemme en beoordelaars se keuse van die beste tuisdorp-video's.
En nou is die top-3 in Potchefstroom, besig om hul stembande te oefen en kitaarsnare te pluk vir die kans om hul Rockspaaider-droom te verwesenlik.
"Dit is so moeilik om naam te maak in die musiekbedryf en Rockspaaider sorg vir 'n reuse-hupstoot," sê Mari Labuschange, hoofsanger van Mars Riot. "Rockspaaider help jou om in die regte sirkels te beweeg en gee jou die nodige hulpbronne om jou loopbaan te begin."
Sy en Shemone Brooks, hoofsanger van Sonder Spore, maak vanjaar geskiedenis by Rockspaaider – dit is die eerste keer dat twee groepe met meisies as hoofsangers na die eindronde deurdring. Dié twee is boonop in dieselfde registerklas by die Hoërskool Randburg.
"Ons het glad nie gedink ons gaan deurdring na die finaal toe nie, maar toe ons hoor ons is deur, was ons eerste reaksie dat ons nou érnstig moet oefen," sê Shemone.
Die Vodacom/MK Bultfantasties-verhoog gaan dié hoërskoolleerlinge se eerste ervaring op so 'n groot verhoog wees, maar hulle is nie té bekommerd daaroor nie.
"Ons is altyd onsself en ons is baie excited," sê Henno Maree, Anderkant die Maan se baskitaarspeler.
Die beoordelaars wat vandag gaan hare kloof oor die tiende Rockspaaider-wenner is Haddad Viljoen, bemarkingsbestuurder van MK; die vermaakjoernalis Marzahn Botha; Charl Greyling, die nasionale handelsmerk-ambassadeur van Jägermeister en hoofsanger van die groep The Olympic; Francois Kleynhans, baskitaarspeler van Glaskas en Pieter de Jager van Die Tuindwergies.
Die wenners sal die opname van 'n album, 'n musiekvideo en R5 000 (geborg deur Music Connection) losslaan. Music Connection borg ook onderskeidelik R3 000 en R2 000 vir die groep wat tweede en derde kom, asook 'n geskenkpak wat musikante se harte sal verbly.
Behalwe vir goeie musiek van die top-3 Rockspaaiders gaan die voormalige kitaarspeler van die groep eF-eL, Naas Veld, ook vir vermaak op die Rockspaaider-verhoog sorg.
Die JIP Rockspaaider-finaal vind om 15:00 by die Vodacom/ MK Bultfantasties-verhoog plaas. Toegang vir die hele dag is R80.