Flower
PS3
Maak jou oë toe en vergeet alles wat jy dink 'n speletjie moet wees. Vergeet al die illusies dat jy iets moet wen of moet sukkel om iets te bereik.
Klaar? Maak jou oë oop en aanskou Flower, 'n speletjie wat só ver weg is van wat ons dink 'n speletjie is dat dit in 'n ander kategorie val. Verbeel jouself hoe 'n blom se droom moet lyk - dan kry jy 'n idee van hoe dit moet wees om Flower speel.
In Flower beheer jy 'n blomblaar deur die SIXAXIS-PS3-kontroleerder te tilt: Die beheerstelsel is baie presies en reageer op die kleinste beweging. Jy kan selfs die kontroleerder op sy gesig draai en die blomblaar sal 'n loop maak en na die kamera vlieg. Enige knoppie op die beheerder beheer dan die wind waarop jou blomblaar vlieg.
So sweef jy rond en deur jou blomblaar met toe blomme in kontak te bring, sal hulle oopgaan en ekstra blomblare tot jou sweefsel toevoeg.
Verskillende kleure blomme voeg verskillende kleure blomblare by, en kort voor lank het jy 'n mengelmoes van kleure wat om jou sweef. Die kleurspektakel word van strelende klavierklanke vergesel.
Flower gaan dus meer oor die rit as die bestemming; en ja, daar is 'n bestemming. As jy genoeg blomme oopgemaak het in 'n dooie stuk veld, sal die veld ontplof met lewe, kleur en musiek.
Flower is geskryf om 'n gevoel van vrede en positiwiteit by die speler op te wek, en hierin slaag dit ongetwyfeld. Al waaroor ek 'n bietjie moet kla, is dat Flower nie heeltemal so "oop" is soos ek dit graag sou wou hê nie.
Daar is steeds 'n pad wat jy moet volg om speel-areas te ontsluit. So jy moet 'n stuk dooie veld lewendig maak voordat jy na die volgende deel kan aanbeweeg. Hier verloor Flower 'n bie¬tjie punte. Vir 'n titel wat so anders is, is dit maar 'n normale eienskap. Ek sou verkies het om te gaan net waar die wind my vat.
Flower is op die PlayStation Network beskikbaar; dus moet jy PlayStation-geld iewers koop (aanlyn of by 'n winkel soos BT Games) en dit dan van die Play¬Station Store aflaai.