ONGEWONE KOSHUISRILLER IS LEKKER LEESSTOF Ilke Opperman
2012-07-13 01:00

Emma en die geheime gang
Marianna Brandt


Marianna Brandt se koshuisriller hou jou in spanning. Jy wens die horlosie wil net so ‘n klein bietjie stadiger tik, sodat jy tyd het om nog `n hoofstuk te lees en jou nuuskierigheid te bedwing.

"Haar oë dwaal oor die bakke kos op die tafel. Hier moet sy oppas, of sy word net so vet soos haar kamermaats."
Die gedagte flits deur Emma se brein, terwyl sy verstom staar hoe die kinders die kos verslind. Sy kan nie verstaan hoekom die kinders nooit versadig raak van die lekker kos nie. Hoekom raak almal op `n streep siek en hoekom word besoekers nie in die siekeboeg toegelaat nie? Die vreemde voetstappe in die middel van die nag spoor Emma en haar vriendin aan om ondersoek in te stel. Hulle kom egter op groter vreemdhede af as wat hulle verwag het.

Aanvanklik was ek meegesleur deur die gebeure, omdat ek myself kon inleef in die situasies. Wanneer wesens uit die buitenste ruimte kom kuier, doen dit egter vir my afbreuk aan die realistiese mileu van die storielyn. Hulle doel voel soos `n flou verskoning vir: "Ek skrik wakker en alles was net `n droom."

Die meeste hoofstukke laat egter steeds jou tone krul van lekkerkry. Ander tye byt jy weer jou naels stomp van spanning. Marianna Brandt se boeiende skryfstyl maak die boek maklik en genotvol om te lees. Jy kan nooit ophou wonder: gaan sy die kinders van vetsug red of gaan sy self in die vet beland?

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur

Naam

2012-11-09 07:05

Kommentaar