VIR DIE EERSTE KEER IN 9 JAAR! Annemie Nieuwoudt
2013-02-25 01:00
Verskaf

Elmi Odendaal (Larrie atletiek kapteine) ontvang die trofee van Mev. R. Colyn (Skoolhoof van HMS - Gasvrou)

Vir die eerste keer in 9 jaar!

 

Nadat Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch die 4M vir agt jaar in ’n ry gewen het, het Hoër Meisieskool La Rochelle van die Paarl op 21 Februarie 2013 egter ’n stokkie gesteek voor nog ’n Bloemhof oorwinning.

 

Hoër Meisieskool La Rochelle, Hoër Meisieskool Bloemhof, Rhenish (van Stellenbosch) en Hoër Meisieskool Paarl (Girls High), het hierdie jaar vir die 21ste keer aan hul jaarlikse 4M atletiekbyeenkoms deelgeneem. Die 4M wat Donderdag 21 Februarie op Dal Josaphat atletiekstadion plaasgevind het, is hierdie jaar deur Hoër Meisieskool Paarl aangebied. Soos  vorige jare, is die byeenkoms met finesse aangebied en het al vier skole uitslae van uitstaande gehalte gelewer.

 

Die 4M begin elke jaar met ’n hoogtepunt wanneer die skole hulself eers op die pawiljoen moet bewys deur hul krete voor te stel. Hierdie krete word al weke voor die tyd geoefen sodat elke beweging presies is en die leerders die woorde in hul slaap kan opsê. Al vier skole het hulself hierdie jaar weer eens goed van hul taak gekwyt en die gees het hoog geloop onder die skole. Die skole se dirigente was opgetof volgens die skool se tema.

 

Die kompetisie tussen die skole was vuurwarm. Op die baan en op die veld wou die atlete wys waartoe hulle in staat is. Na ‘n harde middag van intense kompetisie, het die oomblik uiteindelik aangebreek waarvoor almal gewag het: daar word jaarliks ‘n trofee aan een dogter in ‘n ouderdomsgroep oorhandig wat die hoogste punte op die ASA-tabel (Atletiek Suid-Afrika) verower het. Hier het La Rochelle reeds skoonskip gemaak deur drie van die vier trofeë huis toe te neem. Stephanie Smith van La Rochelle het die trofee vir die beste o/14 prestasie verower. Angeline Smith van La Rochelle het die o/15 trofee gewen en Ansone Lombaard van Bloemhof het die o/17 trofee huis toe geneem. Nicolene Ras van La Rochelle het die o/19 trofee verower.

 

Oudleerders, ouers, onderwysers, skoolleeders en atlete het in spanning gewag toe die finale punte oor die mikrofoon gelees word. In die 4de plek was Rhenish met 138 punte, 3de was Hoër Meisieskool Paarl met 350 punte, 2de Bloemhof met 405 punte en in die eerste plek, na 9 jaar, La Rochelle met 455 punte.  Die Larries het trane van blydskap gestort toe hulle naam gelees word.

 

Atlete kan nou hul strewe na sukses verder neem by die verskillende streeks- en provinsiale byeenkomste. Die Sentraal-Boland byeenkoms het reeds op 23 Februarie 2013 op Coetsenburg plaasgevind het en die Boland byeenkoms volg komende Saterdag, 2 Maart 2013.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur