TAAL WAT ONS HART BEGRYP Lynné Schoeman
2013-02-25 01:00
Thinkstock

Taal wat ons hart begryp

 

Ek en my gesin was onlangs in Frankryk op vakansie.

 

Aangesien die Franse gewoonlik nie te vriendelik op Engelse vrae reageer nie en ek Frans as vak neem, het my pa my reeds voor die vakansie daarvan verwittig dat hy net agteroor sou sit en die praatwerk aan my oorlaat. En sowaar!

 

Ons het skaars afgeklim op die Charles de Gaulle-lughawe in Parys of ek moes treinkaartjies koop, aanwysings vra én oor die telefoon besprekings maak!

 

Een middag het ek en my broer rustig gesit en kaart speel. Ek het my pa sy gebruiklike sinnetjie “Bonjour, may I ask in English?” oor sy selfoon hoor sê.

 

“Oh, not? Wait, I’ll get someone who can speak French.”

“Hierso, Lynné!”

Verbaas neem ek die selfoon by hom.

“Maar Pappa, ek weet nie wie dit is nie!”

“Sê net eers hallo!”

“Uh, bonjour?”

“Nou vra of hulle ons nog Saterdag drie-uur gaan kom haal.”

 

Ek het die vraag só aan die vrou oorgedra. Blykbaar kon sy nie kop of stert uitmaak van wat ek wou hê nie.

 

Ek het (sover my woordeskat toegelaat het) probeer om myself op ’n ander manier te herhaal.

 

Ná die derde probeerslag het ek sterk begin twyfel in my Franse vermoëns. Uiteindelik vra ek toe, net om seker te maak: “Werk u vir ’n taxidiens?”

 

En dit was toe juis waar die faux pas gelê het.

 

Sy het by ’n wassery gewerk en sy het my mooi laat verstaan dat hulle nie wasgoedbondels op Saterdagmiddae oplaai nie.

 

“Kennis is mag,” het sir Francis Bacon in 1597 gesê.

Kennis is egter van geen nut as ’n mens nie die taal verstaan waarin dit oorgedra word nie.

Gryp dus die geleentheid om ’n derde taal te leer met albei hande aan.

 

Dit verbreed jou horison met kilometers, maak soveel deure oop en dit beteken só baie vir mense as hulle hoor jy probeer in hul taal kommunikeer.

 

Nelson Mandela het gesê: “Wanneer jy met iemand in ’n taal praat wat hy verstaan, gaan jou woorde na sy brein, maar wanneer jy met hom in sy taal praat, gaan dit na sy hart.”

 

- Lynné is ’n JJ. Sy is in gr.12 aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch en was verlede jaar ’n uitruilstudent in Frankryk.

 

 

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur